God’s generals [resensie]
top of page

God’s generals [resensie]


Roberts Liardon. God’s generals: Martyrs. Whitaker House. 2016

Dalk het jy al Roberts Liardon se God’s generals raakgeloop. Hier is reeds die sesde volume van sy gewilde werk wat verhale uit die kerkgeskiedenis vertel van mense wat op magtige wyse deur God gebruik is. In dié geval vertel hy die verhale van martelaars.

Christene het vir eeue lank die bekende Foxe’s Book of Martyrs gelees wat vertel het van mense wat hulle lewe verloor het omdat hulle getrou aan die Here gebly het. Nou het jy hier ‘n boek met meer uitgebreide verhale tesame met talle foto’s wat tot in ons dag strek en vertel van mense wat vir hulle geloof gemartel is.

Die boek is ingedeel in tydvakke. Daar is die eerste eeu, tweede en derde eeu, dan die vierde tot veertiende eeu wanneer die kerk se status verander en dit nie meer martelaarskerk is nie maar staatskerk. Ongelukkig het die kerk in sommige gevalle nou die vervolgende kerk geword. Dan is daar die veertiende eeu, die vyftiende en sestiende eeue en dan die moderne dag. Hier bespreek Liardon die kommunistiese bewinde en hulle vervolging van Christene, ook in die China van ons dag. Daar is ook ‘n hoofstuk oor die optrede van die Duitse Nazi-bewind gedurende die Tweede Wêreldoorlog. En dan die Derde Wêreld en die verdrukking van Christene deur veral Moslems.

Jy lees die verhale van Aartsbiskop Oscar Romero, Dietrich Bonhoeffer, Hugh Latimer, Thomas Cranmer, William Tyndale, John Wycliffe en Johannes Hus, Polikarpus en Perpetua, die apostels Paulus en Stefanus, die hedendaagse Siriese martelaars en die een en twintig Koptiese Christene wat in 2015 deur ISIS onthoof is.

Dié verhale is vir ‘n rede vir ons as Christene belangrik. Dié mense dien vir ons as voorbeelde. Die Hebreërskrywer gebruik die beeld, dat Christene op die baan hardloop en dat die geloofshelde van die verlede op die pawiljoene ons aanmoedig om ons beste in die resies te gee. Die voorwaarde is natuurlik dat jy na die stemme op die pawiljoene luister. Dié boek dra daardie stemme in jou lewe in.

Sommige van die verhale in die boek is bekend maar in meeste gevalle handel dit oor mense van wie ons waarskynlik nog nie gehoor het nie. En in elke geval lees ‘n mens van ‘n Christen wat vir geloof opstaan en jou geloof in die proses opbou.

As jy lief is vir geskiedenis en as geloof ‘n belangrike rol in jou lewe speel, gaan jy telkemale weer dié boek soek en teruglees van mense wat jou lewe direk beïnvloed.


bottom of page