Die moeisame pad van ‘n seksverslaafde
top of page

Die moeisame pad van ‘n seksverslaafde


‘n Pornografie-verslaafde vertel:

Ek het op ‘n dag besef hoeveel pyn my sondige gewoonte my vrou, my verhouding met God, met ander en myself veroorsaak. Die skuldgevoelens, skaamte en berou het gelei tot die herhaaldelike smeking om vergifnis en beloftes om nie weer daarin betrokke te raak nie. My eie pogings het nie veel vermag nie: boeke, Bybelstudie, gebed (selfs dat God my oë en sommer ook my lewe sal neem). Ek het ook my vrou gevra om my verantwoordbaar te hou.

My vrou kon later nie meer die verantwoordelikheid vir my sonde help dra nie en het gedreig om my te verlaat. En genadiglik het God nie my oë of my lewe geneem nie, maar my by ‘n Christelike berader uitgebring wat spesialiseer in seksverslawing.

Hier het ek ontdek dat my grootwordproses in ‘n disfunksionele alkoholis-huis, gelei het tot die ontwikkeling van intimiteitsversteuring wat, tesame met vrees, daartoe gelei het dat ek ontvlug in stilbly en onttrekking om te kan oorleef. Dit het natuurlik daartoe gelei dat ek as volwassene hoegenaamd nie in staat was tot ware intimiteit nie, maar eerder ontvlugting gesoek het in die virtuele wêreld van pornografie.

Baie ure se berading deur verslawingskundiges, 12-stappe ondersteuningsgroepe, mannegroepe in ‘n Christelike konteks en harde werk help my om progressief in gesonde intieme verhoudings te kan leef – met God, met myself, my vrou en ander.

Ek begryp al hoe meer hoedat my verwonde identiteit wat van kleintyd af ontwikkel het tot ‘n pornverslaafde volwassene, gebou is op leuens en dat my ware identiteit in Christus gebou is en steeds gebou word op God se waarhede. So kan ek toenemend beter reageer teenoor en in verhouding staan met my vrou.

Die hoop vir elke verwonde gees is gebaseer op die hoop wat ons in Christus het. In Hom is dit moontlik om ‘n beskadigde, gewonde brein fisiek te herbedraad, denke te vernuwe en met ‘n nuwe hart te bou aan gesonde, intieme verhoudings.

Verdere inligting en hulp is onder andere verkrygbaar op:


bottom of page