Somtyds moet jý die eerste een wees!
top of page

Somtyds moet jý die eerste een wees!


Hoe begin mens ‘n positiewe beweging? Daar is so baie dinge wat ons hieroor uit ons kultuur kan leer. Ek sien nou die dag ‘n YouTube video van hoe een persoon so ‘n beweging begin het in ‘n paar minute. Hy het net opgestaan in die middel van ‘n skare mense wat besig was om piekniek te hou in ‘n park. En toe begin hy dans! Sy dans was nie noodwendig van die heel beste nie en dit het bestaan uit sy eie spontane en selfgemaakte bewegings, ‘n blote reaksie op die vreugde en lewenslus wat hy gevoel het op daardie oomblik.

Meeste mense het aanvanklik gedink hy is nie lekker nie en hom net stomgeslaan dopgehou. Na sowat een minuut van ronddans sluit ‘n tweede persoon egter by hom aan en saam-saam wikkel die twee mense hulle lywe voor die verslae piekniekgangers. Nie lank daarna nie kom ‘n derde persoon ook by. Van toe af begin ander mense so een-een by hulle aansluit en kort voor lank begin talle mense stroom om deel te word van hierdie groeiende groep dansers. Na ‘n paar minute was daar letterlik honderde mense wat uiting gee aan hulle vreugde deur hulle lywe rond te skud!

Hoe het dit alles begin? Dit het begin toe één persoon was bereid om vir ‘n aanvanklike paar minute lank beskou te word as die mal een in die skare. YouTube praat van die eerste “lone nut”. Hoe dikwels dink ons aan ‘n goeie ding om te doen, maar ons is te bang om eerste te wees of om uit te staan? Hoe sal dit wees indien ons soms sommer net ons goeie impuls volg?

  • Soos om af te buk en die kelnerin te help om die gemors van die vloer af op te vee.

  • Soos om iemand liefde te gee wat dit nie verdien nie.

  • Soos om die eerste een te wees om ‘n braaivleisvuur wat opgewonde is oor die positiewe dinge in ons land in plaas van om te teem en kerm oor die negatiewe.

  • Soos om die eerste een te wees wat aan iemand genade betoon terwyl al die ander haar veroordeel en verniel met hulle opmerkings.

  • Soos om ‘n positiewe en optimistiese uitkyk aan te neem terwyl ander doemprofeet speel.

Wie weet: jy kan ‘n beweging begin!

Jesus het so ‘n beweging begin. ‘n Beweging van liefde in ‘n wêreld van haat. Hy het vir ‘n wêreld gesterf terwyl hulle nog hulle vuis na God geskud het. Te middel van heersende godsdienstige skynheiligheid het Hy besluit ten gunste van liefde en het sy lewe vir hulle gegee. Daardeur het Hy ‘n nuwe “dans” begin en die wêreld het vandag nog nie herstel van hierdie beweging nie.

Paulus het natuurlik ook hierby aangesluit. Hy en Silas het ‘n beweging begin in Jesus se Naam deur van blydskap te sing in die tronk terwyl hulle in pyn verkeer. G’n wonder dat die vroeë kerk bekend gestaan het as die singende gemeenskap nie! Ons sing wanneer dit goed gaan en wanneer dit sleg gaan. Niemand kon dit nog keer nie. Die kerk dans! ‘n Beweging is begin!


bottom of page