Suid-Afrikaners op die Emmauspad
top of page

Suid-Afrikaners op die Emmauspad


Op die derde dag na Jesus se dood stap twee van sy volgelinge na Emmaus. Hulle gesels diep oor Judas se verraad en die arrestasie in die vroeë oggendure, oor die onregverdige verhoor en wrede dood.

Langs die pad sluit nog ’n reisiger by hulle aan. Hy tel vinnig die moedelose trant van die gesprek op en vra nuuskierig: “Wat is dit wat julle so ernstig met mekaar loop en bespreek?” Verbaas, en dalk met ’n stukkie sarkasme, antwoord hulle met ’n teenvraag: “Is u dan die enigste vreemdeling in Jerusalem dat u nie weet van die dinge wat in die afgelope dae daar gebeur het nie?” Blykbaar is hy, want hy vra weer: “Watter dinge?”

Die Emmausgangers se antwoord spreek boekdele. Dit vertel van wanopvatting en dwaling, van hoop op hopelose dinge en van stukkende moed, van misplaaste fokus en van onbegrip: “Die dinge in verband met Jesus van Nasaret. Ons het so gehoop dat dit Hy is wat Israel sou verlos.”

Die Emmaus-dissipels het met afwagting daarna uitgesien dat Jesus die Romeine sou aanvat en die uitverkore volk tot oorwinning lei. Hy het aanvanklik aan al die vereistes van verlosser voldoen, maar op die einde in die oë van sy volgelinge gefaal.

Hoeveel van ons stap 2000 jaar later steeds die sieldodende Emmauspad? Wag moedeloos op ’n verlosser wat Suid-Afrikaners van allerlei verderflikhede kom red? Hoeveel male verloor ons fokus? Hoeveel van ons kla steeds in Habakuk se woorde: “Waarom laat U my die onreg sien wat gedoen word, waarom kyk U toe as daar soveel ellende is? Oral rondom my is daar onderdrukking en geweld, en word daar getwis en gebaklei. Die wet het nie meer krag nie, en daar geskied nie meer reg nie. Slegte mense het die oorhand oor die goeies, en so word die reg verkrag.”

Waarom gebruik ons nie in die jaar 2017 die voordeel van die wysheid wat nawete bring nie? Ons beskik tog oor die kennis wat vrye toegang tot die Evangelie bring. Moderne Christene hoef nie soos die hooplose Emmausgangers steeds op verlossing van aardse euwels te wag nie. Tog kla ons eerder as om te juig.

Jesus Christus het dié wat in Hom glo reeds van iets veel groter as menslike onderdrukking en lyding gered! En elkeen van ons weet dit, glo dit, bely dit.

Waarom lééf ons dit dan nie?


bottom of page