Bring jy jou heel beste na die huweliksfees?
top of page

Bring jy jou heel beste na die huweliksfees?


Ek is mal oor die idee van "pot luck dinners" wat veral die Amerikaners gereeld op Sondae na kerk hou. Die idee is dat elkeen 'n lekker gereg, poeding of slaai bring en dan eet vriende gesellig saam. Ander mense se kos is altyd vir my baie lekkerder as my eie, daar is n gesellige atmosfeer en daarom hou ek so baie van hierdie tipe etes. Toe ons jonk getroud was, het 'n ouer vriendin van ons my een Sondagoggend voor kerk gebel en ons genooi na so 'n ete. Elkeen moes net bring wat ons beplan het om daardie middag te eet. Wel, ons sou tunaslaai eet! Toe ons vriendin dit hoor, het sy gesê: "Ag toemaar, julle hoef niks te bring nie, kom maar net!”

Hierdie pot luck episode van ons het my aan 'n huwelik laat dink. Hoe wonderlik sal die huwelik nie wees as elkeen sy heel beste na hierdie fees bring nie. Ons almal weet reeds dat die huwelik nie net 'n 50/50 verhouding is nie, maar 100/100. As jy wil hê jou huwelik moet uitwerk en dat jy en jou eggenoot gelukkig moet wees, moet jy bereid wees om 100% te gee. Dit sal nie help as een lid van die egpaar 'n skaapboud bring en die ander een 'n tunaslaai nie!

E. Joseph Crossmann het gesê 'n huwelik is 'n vriendskap op die maat van musiek. Party van ons is weliswaar vriende, maar is daar enige musiek in ons huwelik? Wat kan maak dat daar weer musiek in jou huwelik is?

* Jy het jou lewensmaat gekies. Na die huwelik moet jy kies om hierdie lewensmaat elke dag lief te he. Liefde is 'n keuse. Liefde is eintlik ook 'n werkwoord. Hoe betoon jy jou liefde aan jou huweliksmaat. Deur hom of haar te dien. Eintlik moet die huwelik 'n kompetisie wees van wie mekaar die meeste dien.

* Hoe gemaak as jy weet dat jy 'n hoenderpastei na die huweliksfees bring en jou maat bring net 'n gekookte eier? Hou aan om jou heel beste te gee. Dit vryf af. Moenie moedeloos raak en besluit dat jy nou minder gaan gee nie.

* As een of beide van die huweliksmaats 'n hart van klip het, maw onvergewensgesind of verbitterd is, kan 'n huwelik maar moeilik wees. Daarom is dit belangrik dat jy jou huweliksmaat moet vryspreek en vergewe. Gereeld. Moenie dat daar 'n klomp bitterheid in jou hart broei nie.

* Praat met mekaar. Dit is belangrik dat jy jou hart met jou geliefde deel. Maak tyd om lekker dinge saam te doen.

* Om die beste na die huweliksfees te bring is dit ook nodig dat jy die beste goedversorgde jy na jul huwelik bring.

* Bid vir jou huweliksmaat, vir sy/haar geestelike lewe, vir goeie gesondheid en vir hulle werk. Praat met God oor jou huwelik.

Ten laaste: A couple that prays together, stays together. Jy het dit al baie gehoor, maar beproef jy dit nog? My gebed is dat jou huwelik 'n fees sal wees met pragtige musiek!


bottom of page