top of page

Die kuns van kommunikasie


Die welkome nuus oor sjokolade is dat veral donker sjokolade die produksie van endorfiene stimuleer wat my lekker laat voel en dat die serotonien daarin ‘n anti-depressant is. Geen wonder dat dit so maklik is om die hand uit te steek na ‘n blokkie sjokolade wanneer die wêreld donker lyk of druk nie! My woorde kan dieselfde vertroostende, helende effek op my hoorders hê. Salomo het nie sjokolade geken nie, maar het aangename woorde met heuning vergelyk – hy beskryf dit as “soet en geneeskragtig vir die mens.” Spreuke 16:24 (’83 Vertaling)

Jare gelede het my welsprekende man iets baie besonders van sy seremoniemeesterskap op ‘n jong vriend se troue gemaak: in plaas van grappies en kwinkslae het hy slegs aanhalings uit Spreuke gebruik. Daar is tog nêrens anders soveel wysheid en treffende waarhede saamgevat as juis in hierdie Bybelboek nie. En dit kan nie anders nie – God is immers die Een wat Salomo se gebed om “a hearing and understanding heart” beantwoord het.

Salomo het veral wat kommunikasie betref, besondere ware woorde vir ons nagelaat. Ek, wat eintlik ‘n introvert is, kan soms aan die praat raak en agterna my tong wil afbyt wanneer ek besef as ek my mond toegehou het, ek baie meer verstandig sou voorgekom het! (Spreuke 17:28)

Wanneer ek kalm en rustig van binne is, is ek makliker versigtig met my woorde. Dan kry ek makliker reg wat Salomo in Spreuke 17:9 aanbeveel: dat ek sal “… stilbly oor ‘n onreg en nie aanhou torring daaroor nie.” (NLV)

En wanneer iemand anders nie versigtig met sy/haar woorde voor my of teenoor my is nie, kan ek kies om nie skinderstories te versprei nie, of aanstoot te neem nie. Ek kan kies om die beste te glo en te besluit: "It was an oversight; therefore overlook it. It was done through forgetfulness; therefore forget it. It perhaps made nothing of you; do you make nothing of it.’’ (Matthew Henry, Commentary on the Whole Bible) Skinderstories en ook aanvallende, kwetsende woorde word net vererger deur dit te herhaal of aan te haal.

Die keuse is myne: ek kan kies om met aangename woorde, daardie “sagte antwoord” waarvan Salomo praat, te reageer – en my “heuning”-woorde (my “sjokolade”-woorde) kan bydra om verhoudings te verbeter.


bottom of page