Doen goed op die Julio Diaz-manier
top of page

Doen goed op die Julio Diaz-manier


“Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle nie teen ’n kwaadwillige mens verset nie. As iemand jou op die regterwang slaan, draai ook die ander wang na hom toe” (Matteus 5:39). Van Jesus se aangrypende woorde gepraat, kan ek jou gou vertel van Julio Diaz, ’n maatskaplike werker in New York. Toe hy een aand uit die trein klim om by sy plaaslike eetplek te gaan eet, wag ’n man met ’n mes hom in. Hy wou Diaz se beursie hê. Toe die aanvaller met die beursie wegstap, roep Diaz uit dat hy iets vergeet het. Hy moet Diaz se jas ook vat, want hy gaan dit nodig hê as hy heelnag op straat uithang om sy geld met ’n mes te verdien. Die aanvaller was oorbluf. Hy wou weet hoekom Julio sy jas vir hom aanbied. “Wel, as jy bereid is om jou vryheid te waag vir ’n paar dollar, dan het jy dit nodig.” Toe doen Diaz nog iets vreemds. Hy nooi sy aanvaller uit om saam met hom te kom eet. Oorbluf het die jong man ingewillig. Terwyl hulle in Diaz se gunsteling eetplek sit, het die eienaar, die kelners en die skottelgoedwasser oorgestap en kom groet.

Die jong man wou weet hoekom Diaz so vriendelik met die restaurantpersoneel is. “Is jy nooit geleer om vriendelik te wees teenoor almal nie?” was sy teenvraag. “Ja,” het die man geantwoord, “maar ek het nie geweet mense bedoel dit regtig nie.” Toe die rekening opdaag, het Diaz vir die jong man gesê dat hy steeds sy beursie het, maar as hy dit teruggee, sal hy wat Diaz is vir die ete betaal. Sonder huiwering het die outjie dit gedoen. Toe hulle uitmekaar gaan, gee Diaz hom nog $20 in ruil vir sy mes. Klink hierdie vir jou soos ’n regte-lewe-dramatisering van Jesus se woorde in die Bergrede dat ons die tweede myl saam met ons vyande moet stap en die ander wang moet draai? Wanneer gewone mense mooi, lewende Bybeltekste word vir ander om op straat te lees, dan word geloof op vreemde maniere magneties.


bottom of page