Kom ons werk saam
top of page

Kom ons werk saam


Ek verkneukel my aan die nuusberig van ‘n desperate Knysna huiseienaar wat deur ‘n voornemende plunderaar gehelp is om sy huis te red – saam-saam kon die twee verhoed dat die verterende vuur die huis vernietig. EN die voornemende dief is met R1100 vergoed vir sy hulp, R100 meer as wat die eienaar hom oorspronklik aangebied het!

Hoe dikwels raak ons nie in ‘n stryery oor baie minder ernstige goed betrokke en bereik niks omdat albei partye hardkoppig is nie. Ek glo vas dat ék reg is en wil nie toegee nie, maar ons kom nêrens met ons verhouding of met die projek wat ons probeer aanpak nie.

Nehemia vertel hoedat die Jode die mure van Jerusalem herbou het: goudsmid en parfuumvervaardiger, hoof van ‘n distrik, ‘n pa en sy dogters wat almal saamwerk om die vervalle mure te herbou tot eer van God en beveiliging van die inwoners – met ‘n troffel in die een hand en ‘n swaard in die ander. So moet ons in al ons verhoudings bereid wees om messelaars te wees (mét die swaard van die Woord en die skild van geloof byderhand) om die mure van ons huwelik, gesin en samelewing te herbou/op te bou tot eer van die Here en die veiligheid van ons wat die “inwoners” is.

Dit gaan impliseer dat ons nie sal hare kloof nie, maar die ander een aanvaar; dat ons nie op mekaar sal neersien nie, maar onthou dat ons nie eens oor onsself finale seggenskap het nie – ons wat beweer dat ons Christene is, is mos volkome God se eiendom.

Of ons dan bou of brand bestry, gaan ons soveel meer bereik as ons nie net strewe na harmonie en dit wat die ander opbou nie, maar as ons onthou dat ons besig is om aan ‘n baie groter projek te werk, as ons saamwerk aan die uiteindelike opbou en uitbou van God se koninkryk.

“What we have done for ourselves alone dies with us; what we have done for others and the world remains and is immortal” – Albert Pike



bottom of page