Waar kom die passie vandaan?
top of page

Waar kom die passie vandaan?


Waarom is dit dat ons soveel keer Jesus eerder vind by nie-gelowige mense as in die kerk? Ons noem Jesus se lydensverhaal juis die “passie” van die evangelie omdat dit so weerspieëlend is van God se intense liefde en omgee vir ons!

Soms is mense wat buite ons geloof staan vir ons ‘n beter voorbeeld van gesonde lewenslus en ‘n intense passie vir die lewe as “ons eie mense”. In ‘n onlangse artikel wat ek gelees het oor een van my persoonlike kinderhelde – Bruce Lee – beskryf die skrywer hoe passievol Bruce oor die lewe was en watse verreikende gevolge dit in sy eie lewe sowel as die lewens van miljoene ander mense gehad het. Min mense besef die geweldige impak wat Bruce Lee gehad het, nie net op die wêreld van Oosterse vegkuns nie, maar ook op die gebied van kuns, filosofie, dans en natuurlik die filmbedryf.

Hy het skynbaar ‘n intense begeerte gehad om Oosterse vegkunste op ‘n nuwe manier aan die Weste voor te stel en te populariseer, om die hoogsbetaalde Oosterse akteur van sy tyd te word, om die wêreldbeeld van Sjinese Kung Fu vir goed te verander, om sy eie unieke gevegskuns te ontwikkel en om dit alles te gebruik om mense mee te help.

Die doelwitte van hierdie vyftien-jaarplan het hy egter reeds in vier jaar bereik met die aanbreek van sy dood in Julie 1973! Hoe het hy dit so vinnig bereik? Kenners meen dis die geweldige passie en energie wat hy openbaar het heens sy lewensideale. Wanneer mens sommige van sy briewe en korrespondensie lees dan kry mens nogal ‘n interessante prentjie. Hier volg net ‘n paar uittreksels uit ‘n brief aangaande sy innerlike ontwakings, geskryf aan een van sy vriende, voor sy jare van roem.

I feel I have this great creative and spiritual force within me that is greater than… ambition, greater than confidence, greater than determination, greater than vision. It is all these combined. My brain becomes magnetized with this dominating force which I hold in my hand.

Later in dieselfde brief skryf hy:

Whether it is the God-head or not, I feel this great force, this unstopped power, this dynamic something within me. This feeling defies description, and [there is] no experience with which this feeling may be compared. It is something like a strong emotion mixed with faith, but a lot stronger.

Bruce kon nie ophou praat en skryf oor hierdie allesoorheersende krag en gevoel binne-in hom, te same met die gepaardgaande kreatiwiteit wat dit meebring nie. Hy het dit dikwels genoem ‘n “spiritual awareness”. Waar kon hierdie gevoelens, begeertes en dryfkrag vandaan kom en wat sou die oorsprong van dit alles lê?

Ek kan nie help om te dink dat Bruce – dalk onbewustelik – ervaar het wat dit beteken om in die beeld van die Skepper-God gemaak te wees nie. Ek kan nie help om te dink dat dit die kreatiewe opstandingskrag van Jesus was wat hy onwetend beleef het nie. God plaas tog sy roepstem en DNS binne-in elke mens. Ons eie innerlike begeertes en kreatiwiteit is bedoel om ons na die Bron daarvan te lei. Paulus sê immers aan ‘n volslae heidense groep mense in Atene dat God nie ver van enige een van hulle af is nie en dat Hy ons juis skep met geestelike impulse met die doel om Hom te soek en vind (Hand 17: 27). Paulus sê ook dat hierdie misleide maar godsdienstige Grieke elke dag deur die krag van Christus lewe, beweeg en bestaan sonder dat hulle dit noodwendig raaksien of besef (Hand 17: 28). Om dieselfde rede kon Paulus hulle aan die begin van sy toespraak komplimenteer oor hulle godsdienstigheid (Hand 17: 22-23). Hy doen dit nie omdat hy dink hulle aanbid reg nie. Nee, inteendeel. Hy erken egter dat die impulse en begeertes wat hierdie Grieke openbaar om Godsdienstig te wees, wel goeie impulse is en dat dit van God af kom. God gee dit sodat mense Hom kan soek en vind, sodat hulle die opgestane Christus in hulle midde kan raaksien.

Wanneer ons dus mense teëkom, binne of buite ons eie geloofstradisie – soos Bruce Lee – wat ons meedeel dat hulle iets binne-in hulleself beleef soos ‘n kreatiewe “great force, …unstopped power, ...dynamic something”, dan kan ons met vrymoedigheid vir hulle sê:

Dis nie ‘n ‘something’ nie maar ‘n Persoon. Dis ‘n Goddelike roepstem, ‘n sagte influistering, ‘n persoonlike uitnodiging van die Een wat jou geskep het. Sy doel daarmee is sodat jy Hom sal soek en vind!


bottom of page