Groei kleiner groter
top of page

Groei kleiner groter


Ek hoor iewers die storie van iemand wie se kleinkind nie broccoli wou eet nie. Nadat die ouma alles probeer het, kyk die outjie haar ernstig aan en sê vir haar hierdie broccoli lyk vir hom presies net soos daardie een boom waarvan die Bybel vertel. Toe die ouma wou weet watter boom, sê hy vir haar daar was mos ‘n boom in die paradys waarvan die vrugte verbode was. Die Here het gesê as mense hiervan eet sou hulle sterf. Daarom wil hy dit nie waag om hierdie “broccoli boompie” te eet nie. Nou ja, wat antwoord mens as jy sulke wyshede uit die mond van kinders hoor?

Ons kan soveel by kinders leer, en ons moet ook! Hulle is sorgvry, avontuurlustig en nuuskierig. Al ons eie grootmens-vrese wat ons snags laat wakker lê, het hulle nog nie beetgepak nie. Dit hoekom Jesus in Matteus 18 sê ons moet weer kinders word. O ja, Hy het bygevoeg dat as ons dit nie doen nie, dan sal ons nooit in die koninkryk van God ingaan nie. Hierdie is regtig nie maar net ’n mooibedoelde voorstel van Jesus nie. Met al die gewig van die hemel agter Hom sê Jesus dit. Hy weet hierdie grootmens-lewe van ons steel dikwels al ons hoop en energie. Dit dreineer ons van ons geloof. Dit maak ons selfs hard, koud en kleingelowig. Ons moet dringend weer kinders word. Ons is dit in elk geval; ons is altyd kinders in God se huis, nooit volwassenes nie. Om die lewe in kinderlike afhanklikheid van God te leef is ’n hemelse opdrag! Dit sal ons lewens red. Dit sal ons met hoop en blydskap vul. Vat asseblief vandag Matteus 18 se woorde ernstig op en groei agteruit. Groei kleiner om groter te wees in God se oë.


bottom of page