top of page
  • deur Elmarie van der Westhuizen

Dankbaarheid


“It is gratefulness which makes the soul great.” Rabbi Heschel

Dit is so maklik om ontevrede te word met wat ek het. Om myself te vergelyk met vriende/familie wat vooruitstrewend is en lyk of hulle geen probleme het nie, geskied onbewustelik . My eie lewe voel dan vaal en oninteressant en ek voel minderwaardig. Ek begin dan fokus op my eie swaarkry en dit wat ek nie het nie, in plaas van om die baie wat ek reeds ontvang het, raak te sien.

Onvergenoegdheid kan versprei soos suurdeeg na elke vlak van my lewe en verhoudings. Ek raak dan buierig, negatief en verbitterd.

Om ‘n dankbare hart te hê is lewensveranderend. Dan kyk ek verby die dinge wat vir my moeilik is en sien ek God se oorvloedige seën raak. Dit verklaar hoekom die bejaarde vrou in die ouetehuis ten spyte van haar chroniese pyn steeds vriendelik kan wees en jou bedank vir jou besoek. En dit verklaar hoekom die middeljarige man wat onlangs sy werk, sy huis en sy familie verloor het, in plaas van bitterheid, uit sy pad gaan het om die mense wat vir hom kos en blyplek gegee het, te bedank.

Onlangse navorsing wys dat mense wat dankbaar is gelukkiger, meer opgeruimd en meer tevrede met hulle lewe en verhoudings is. Hulle is minder gespanne en depressief.

Dankbaarheid is ‘n manier van lewe en nie net ‘n gevoel nie. Die Bybel leer ons dat dankbaarheid deel is van die kern van ‘n Christen se lewe. (1 Tessalonisense 5:18Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag” )

Hierdie dankbaarheid is nie net ‘n emosie nie maar inspireer my om tot aksie oor te gaan. Met die baie wat ek ontvang het gaan dien ek ander in liefde. So kan ek vir my vriendin wat so pas ‘n baba gehad het aandete neem en ‘n koppie tee by my bejaarde buurvrou gaan drink. Kan ek ‘n handgeskrewe kaartjie stuur aan ‘n jarelange vriendin of ‘n gewillige oor wees vir iemand wat nodig het om te gesels.

Om ons dankbaarheid lewendig te hou moet ons, onsself voortdurend herinner aan alles wat ons voor dankbaar kan wees. Om te kan opstaan in die oggend en heel eerste dankie te sê vir hierdie nuwe dag. Om dankie te kan sê vir my man/kind/gesondheid/wat ek ookal ontvang het – dit raak te sien en te sien dat dit goed is. En God daarvoor te eer.

“If you can manage to be thankful in every situation, really believing that God is working everything out for your good, you will end up with the victory every single time” Joyce Meyers


bottom of page