Fantasie kan jou kind help glo
top of page

Fantasie kan jou kind help glo


Ek kry met al hoe meer besorgde ouers te doen wat my meedeel dat hulle tieners nie meer in geloof belangstel nie. Gereeld sê mense vir my iets soos die volgende: “My kind is vyftien en hy het vir my gesê hy glo nie meer nie.” Dit lyk eerlik asof hierdie verskynsel besig is om ‘n tendens te raak. Die ouers van hierdie kinders is dikwels goeie, diep gelowige mense wat hulle bes probeer om hulle kinders in die kerk groot te maak en hulle eie geloof in Jesus aan die kinders oor te dra. Tog sukkel dit soms.

Wat is dan fout? Is die evangelie van Jesus nie meer relevant nie? Dra dit geen krag meer nie? Waarom sukkel sommige kinders (en volwassenes!) vandag so om te glo?

Charles Taylor, ‘n Katolieke filosoof, beweer in sy dik boek getiteld A Secular Age, dat sommige Christelike tradisies eintlik gedeeltelik verantwoordelik gehou kan word vir die sekularisasie in ons samelewing vandag! Wat bedoel hy hiermee? Hy bedoel dat ons as Christen-ouers die idee van fantasie uit ons kinders se lewens begin uithaal het. Sommige Christene laat nie hulle kinders toe om fantasieë te lees of superheldflieks te kyk nie. Dan is ons ook krities op sekere fantasieflieks wat wel in die teaters draai. Dit leer ons kinders onbewustelik - op ‘n baie algemene vlak - dat hulle in ‘n verbeeldinglose eng wêreld leef sonder enige dieper geestelike betekenis of “magic”. Hierdie “magic” word nie in die okkultiese sin bedoel nie maar as ‘n breë simbool van die teenwoordigheid van die Bonatuurlike en die Goeie in hierdie lewe. Taylor wys daarop dat fantasieë ‘n mens kan help om te verstaan dat ons in ‘n wêreld leef waar enige iets moontlik is. Hierdie lewe is dus ‘n “betowerde” werklikheid waar die Bonatuurlike ‘n alledaagse verskynsel is en waarin iets soos Jesus se lewe, wonders, dood en opstanding eintlik veronderstel is om heel gemaklik in te pas. Hierdie siening van die wêreld maak dit vir mense makliker om te glo. Skrywers soos GK Chesterton en CS Lewis het daarom gesê dat alhoewel fantasieë nie die Bybelse boodskap direk verkondig nie, wys dit heen na die Bybel en die boodskap van Jesus. Dit dek dus die tafel en berei ‘n kind se hart voor vir die koms van die Bonatuurlike opgestane Jesus in iemand se lewe. Dit wil sê dit wys indirek na die Jesus-verhaal in ‘n breë, algemene sin van die woord. Wanneer die saad van die evangelie dus gesaai word in ‘n hart wat deur fantasie voorberei is, dan val dit in vrugbare grond, kan dit wortel skiet en groei.

Wanneer ons egter ons kinders groot maak –soos wat baie gelowiges met goeie bedoelings doen – sonder ‘n verbeelding wat fantasie kan verwerk, dan “ont-tower” ons hulle beskouing van die lewe. Die terme wat Taylor gebruik vir “ont-tower” is “disenchant” of “demystify”. Aan die een kant leer ons dus onbewustelik vir hulle in der waarheid ‘n sekulêre (ont-towerde) lewensbeskouing aan terwyl ons aan die ander kant poog om hulle te leer glo. Geloof pas egter nie in ‘n ont-towerde siening van die wêreld in nie, en dis waar die probleem ontstaan. Ons dek dus eintlik op ‘n subtiele manier die tafel vir ongeloof, alhoewel geloof eintlik ons doel is.

Dit is juis die verskil wat Jesus se opstanding gemaak het in die lewens van gewone mense: om te leef in ‘n wêreld waar Jesus werklik opgestaan het, is om te leef asof enige iets moontlik is en waar God enige oomblik kan ingryp. Om in Jesus te glo is om te leef asof Lewe ingekom het in die wêreld van die Dood. Ons leef in ‘n wêreld waar die kommunikasiekanaal oop is tussen die hemel en aarde, God is daarom hier tussen ons, om ons en in ons. God is in Persoon by ons en Hy gee om, Hy roep, Hy versorg, Hy red! Dit is inderdaad fantasties! Om Jesus te kan volg is dus soos om in ‘n fantasie te glo wat waar geword het, wat die menslike geskiedenis binnegekom het. Dis soos ‘n sprokie wat werklikheid geword het! Daar is toe werklik ‘n Prins wat gekom het om die prinses te kom red, of in die taal van die Bybel: ‘n Bruidegom wat gekom het vir sy bruid!

Daar is ‘n woord wat die Bybel gebruik vir so ‘n asemrowende fantasie wat werklikheid geword het.

Ons noem dit die evangelie. Dit beteken Goeie Nuus!


bottom of page