Leier Nuusbrief - Augustus 2017 - Deel 1

August 2, 2017

Hoekom sukkel leiers om verskoning te vra?

 

Die vinnige antwoord is trots. Dikwels sê ons dit gaan oor die beginsel. Onderliggend tot die beginsel is dikwels die feit dat ek altyd reg wil wees. Ek gee nie ‘n duim toe nie al is dit tot die beswil van almal betrokke. Om verskoning te vra is nie altyd maklik nie. Ons twyfel dikwels oor wie moet verskoning vra. Wanneer seermaak sonder ‘n verskoning gepaard gaan, laat dit altyd ‘n volgstroom agter;

  • Huwelike kry seer;

  • Besighede word vernietig;

  • Leierskap word verswak; ens.

Dit alles net omdat iemand nie bereid is om daardie drie eenvoudige woordjies te sê nie: “Ek is jammer.” Maar as jy daardie woorde sê, moet jy dit bedoel. Die meerderheid verskonings is privaat en vind nie in die openbaar plaas nie, maar hulle is almal persoonlik. Wat gebeur as ‘n leier nie om verskoning wil vra nie?

  • Sy span kry seer,

  • Sy invloed verminder;

  • Sy bediening word bedreig.

Die oomblik as ‘n leier sê: “Ek is jammer. Ek was verkeerd,” verdwyn die hitte en vyandigheid. Dit lei tot herstel en bring vryheid. Nou kan die Heilige Gees sy werk doen.

 

Daar is nie ‘n formule nie, maar wel sekere beginsels waaraan ‘n verskoning moet voldoen:

  • ’n Opregte verskoning beteken dat jy dit bedoel – dit kom uit jou hart;

  • ‘n Opregte verskoning verwag dat een of ander verandering sal plaasvind; en

  • ‘n Opregte verskoning berus op ‘’n innerlike inisiatief eerder as uiterlike aansporing.

Wat moet ons doen om te verseker ons doen die regte ding op die regte tyd?

 

1. Nederigheid eerder as trots.

Jesus is ons model. Trots is deel van ons gevalle natuur. Ons almal het dit al ondervind, maar ons hoef nie daaraan oor te gee nie. Gee ons oor misbruik ons die gesag wat aan ons toevertrou is.

 

2. Onderwerping eerder as oorheersing.

Leiers het gesag. Ons kan selfs sê dat leiers mag het. Maar leiers is nooit geroep om te oorheers nie. Enigeen wat sy titel uitbuit, misbruik hierdie gesag.

 

3. Verhoudings eerder as reg.

Om te bewys dat ek reg is, is dikwels nie so belangrik as om die verhouding te behou nie. As dit nie die kerk skade aandoen nie en al wat gebeur is dat my ego gekneus word, dan moet ek groter wees en die argument net eenvoudig los. ‘n Gesonde verhouding is altyd ‘n twee rigting straat. Hoe reageer ek as iemand my vra “Sal jy my vergewe” na sy verskoning? Hier gee die Skrif vir ons duidelike riglyne: Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het (Efesiërs 4:32)

 

Wil jy lojale spanlede hê?

 

Wat moet jy doen as jy lojale spanlede wil hê?

 

1. Wys dat jy omgee.

As jy mense hanteer asof hulle slegs ‘n middel tot ‘n doel is, sal jy nooit lojaliteit kry nie. Moet hulle nie as robotte beskou nie. Wys dat jy mense waardeer. As iemand siek is, bel hulle, wees simpatiek. Net ‘n eenvoudige vragie: “Hoe gaan dit met jou?” is voldoende om hulle te laat weet dat jy omgee

 

2. Wys respek.

“Respect is how to treat everyone, not just those you want to impress.” ~ Richard Branson.

 

Moenie inbreuk maak op hulle persoonlike tyd nie. Respek is ‘n absolute vereiste. ‘n Goeie leier laat nie sy spanlede minderwaardig voel nie. Spanlede moenie geïntimideerd voel om jou te nader nie.

 

3. Verbind met jou span.

Wees sigbaar. Mense moet van jou teenwoordigheid bewus wees. Moenie net met spanlede kommunikeer as jy iets gedoen wil hê nie. Jy kan nie die troepe motiveer as jy nie sigbaar is nie. Meng met jou ondergeskiktes. Eet saam met hulle. Leer jou span ken. Bou verhoudings.

 

4. Dien as advokaat vir jou spanlede

Wees lojaal aan jou spanlede. Moenie die regter, jurie en teregsteller wees nie Moenie jou mense vir die wolwe gooi nie

 

“We are interested in others, when they are interested in us” ~ Publius Syrus

 

5. Gee outonomie

Om die hele tyd oor iemand se skouer te loer, ontmoedig mense. Soms moet jy terugstaan en jou spanlede toelaat om aan te gaan. Gee aan mense verantwoordelikhede en uitdagings wat hulle sal ontwikkel. Laat hulle met idees na vore kom. As jy jou spanlede bemagtig wys dit dat jy hulle vertrou en hulle sal jou nie wil teleurstel nie.

 

6. Wees regverdig en neutraal

 Ons weet van kantoorpolitiek en voortrekkery. Gee eerder terugvoer as afbrekende kritiek. Moenie voorkeurbehandeling aan sekere spanlede gee nie. Almal kyk en sien meer as wat jy dink.

 

7. Deel en gee krediet

 Wees vrygewig met belonings en erkennings; erken goeie prestasie in die openbaar; vier oorwinnings. Dit geld nie net vir toppresteerders nie, maar ook vir diegene wat verbeter. Mense wil graag vir groot mense werk.

 

“Nobody cares how much you know, until they know how much you care.” ~ Theodore Roosevelt

 

Leierskap is ‘n neem en gee verhouding as jy wil hê dat jou spanlede daardie ekstra myl moet loop, moet jy dit ook doen. As jy lojale spanlede wil hê, behandel hulle goed.

 

Werknemers verlaat leiers en nie organisasies nie

 

Is hierdie stelling waar? ‘n Onlangse Gallup opname wys dat net meer as 50% van mense wat hulle werk verlaat het dit gedoen het om van hulle leier af weg te kom. Ander studies wys hierdie getal is selfs so hoog as 75%. Dit is ‘n betekenisvolle getal. Die probleem is dat die mense wat weggaan van die beste werknemers is – mense wat beter opsies elders het.

 

Hoekom verlaat mense hulle werk?

  1. Hulle wil nie met hulle leier saamwerk nie.

  2. Hulle soek meer geleenthede vir bevordering.

  3.  Hulle wil ‘n beter werk-lewe balans hê.

  4. Hulle wil meer geld verdien.

  5. Hull is ongelukkig met die werkomgewing.

 

Hierdie eerste drie redes is eintlik net verskillende maniere, om te sê dat hulle beter leierskap wil hê.

 

Jy kan nie ‘n werknemer se betrokkenheid en lojaliteit koop nie – dit moet verdien word. Om talentvolle mense te behou word bepaal deur leierskap.

 

Hoe jaag swak leiers goeie mense weg?

 

  1. Hulle is nie nederig nie. Hulle is nie toeganklik nie en sien nie die uitstekende prestasies van ander raak nie.

  2. Hulle kry nie mense se kreatiwiteit betrokke nie. Mense word dus nie ten volle gebruik nie.

  3. Hulle ontwikkel nie mensvaardighede nie. Hulle waardeer nie mense se vermoëns en potensiaal nie.

  4. Hulle neem in diens en bevorder die verkeerde mense. Hulle gee voorkeur aan mense wat soos hulle is, in plaas van mense wat waarskynlik goed gaan presteer.

  5. Hulle heg nie waarde aan diversiteit nie – hulle onderskat die waarde van verskille.

  6. Hulle het nie ‘n visie wat mense opgewonde maak nie.

 

As jy wil hê dat goeie mense moet bly, moet jy dalk aanpassings in jou benadering tot leierskap maak.

 

Moenie dat jou lojale mense weggaan nie

 

Baie leiers voel dat al hulle spanlede vervangbaar is. Maar:

  • Lojaliteit is nie algemeen nie. Jy moet hard werk om dit te kry.

  •  Kennis van hoe sisteme werk en verhoudings, ook met medewerkers, neem tyd en energie om uit te bou.

  • As jou beste mense weggaan, het dit ‘n domino-effek op ander lojale spanlede.

Hoekom doen leiers nie meer om hulle beste mense te behou nie? Hulle is te besig met belangriker en strategiese dinge. Kultuur eet strategie vir ontbyt; lojale mense eet ander dinge vir middagete

 

Lojale mense is meer as hulle gewig in goud werd. As jy dink goeie werknemers is duur, probeer swak werknemers. Lojaliteit word nie meer as ‘n deug gesien nie. Lojaliteit word gesien as iemand wat te gemaklik in sy huidige taak is. Daarom word lojaliteit nie meer waardeer nie. Die gevolg is dat spanlede nie meer die nut van lojaliteit besef nie.

 

Vyf gewoontes van gesonde gemeentes

 

Hierdie is gewoontes wat dikwels nie deur lidmate gesien word nie. Kom ons kyk na hulle.

 

1. Leiers parkeer vêr weg

As leiers almal by die ingang parkeer, wys dit hulle dink nie aan moontlike besoekers nie. Leiers wat vêr parkeer en dan na die gebou loop, maak ‘n simboliese stelling. Hierdie gesindheid suurdeeg mettertyd deur die gemeente. Mense sien nederigheid en dienaarskap uitgeleef op ‘n klein manier.

 

2. Beperkte tyd in die ruskamer.

Meeste kerke het ‘’n kamer waar die leiers hulle kan afsonder vir ‘n rustydjie. Natuurlik is die goed om ‘’n tydjie te gebruik om jou gedagtes weer bymekaar te maak. Maar die tyd moet beperk word.

 

3. Baie dankie sê briefies

 Hierdie briefies is ‘n kragtige instrument vir die leier. Om ‘n handgeskrewe briefie aan iemand te stuur sê baie in ons onpersoonlike digitale wêreld Hierdie briefies word dikwels vir jare bewaar.

 

4. Eerste in/laaste uit

Leiers is dikwels die eerste om te arriveer en die laaste om te vertrek aan die einde van ‘n gebeurtenis of erediens. Hulle wil deel wees van wat gebeur; hulle wil seker maak dat hulle teenwoordigheid bekend is en gevoel word. Dit wys jy is toegewy aan die roeping van die gemeente. Wys jou liefde en versorging vir jou span deur saam met hulle te wees.

 

5. Doen vir een wat jy wens jy vir almal kan doen

Soos die gemeente groei, kan die leier nie meer dieselfde individuele versorging en ondersteuning gee nie. Die neiging is om individuele sorg te los. In gesonde kerke sal leiers tog tyd kry om individue te versorg op ‘n manier wat hulle wens hulle aan almal kan gee. Leiers van gesonde gemeentes soek plekke waar hulle mense op ‘n persoonlike vlak kan bedien. Die leier moet aan sy mense verbind bly.

 

Die gemeente is nie ‘n besigheid nie

 

Enigeen kan ‘’n besigheid besit en bestuur. Jesus besit die kerk. Hy kan dus bepaal hoe dit bestuur moet word.

 

My besigheid het ek begin, ek besit dit en ek bestuur dit. Ek neem al die belangrike besluite.

 

Ek het nie die kerk begin nie; ek besit nie die kerk nie. Natuurlik is daar sekere besigheidsaspekte aan die kerk – die kerk betaal rekeninge, organiseer gebeure en moet sy hulpbronne goed bestuur.

 

As on die kerk soos ‘n besigheid bestuur, tree ons meer en meer soos eienaars en nie rentmeesters op nie. Nou word ons energie afgewater, ons prioriteite word deurmekaar en ons fokus is verkeerd. Ons moet altyd onthou dat ons rentmeesters is.

 

Nog ‘n aspek wat ons by besigheid oorgeneem het, is dat die leraar ‘n visie moet daarstel en dat die lidmate moet volg. Omdat die eienaar sy besigheid besit en bestuur, kan hy doen wat hy wil, sy idees afdwing. Dit het goeie en slegte gevolge. Ek kan dit doen, maar dan moet ek met die resultate saamleef.

 

In die kerk bepaal Jesus die visie. Hy is verantwoordelik vir die resultate. Die leiers en lidmate volg sy visie. Ongelukkig is ons nie bereid om te luister om Jesus se visie te hoor nie. In die kerk hoor ons die visie as ons bid.

Please reload

ONLANGSE ARTIKELS

December 6, 2019

December 5, 2019

December 3, 2019

Please reload

AFDELINGS & SKRYWERS
LEES SOORTGELYKE ARTIKELS
Please reload