God eet graag saam!
top of page

God eet graag saam!


Gideon is sekerlik een van die vreemdste mense ooit wat God geroep het vir sy diens. Ek lees in Rigters 6 dat hy God se antwoord is op die gebede van sy volk om uitredding teen die Midianiete. Maar Gideon kruip weg as God hom opsoek. ’n Engel moet hom gaan uitsnuffel daar agter ’n dorsvloer. As Gideon boonop hoor hy word aangespreek as ’n dapper held, dan is hy heeltemal uit sy diepte. “Askies meneer,” sê hy ewe vreemd vir die engel, “maar as God by ons is, hoekom gaan dit dan so sleg?" Gideon is geen geloofsheld nie. Hy twyfel aan God. Hy dink God het hulle in die steek gelaat. Maar God steur Hom gelukkig net mooi niks aan Gideon se vrees, sy twyfel en swakheid. “Gaan met die krag waarmee Ek jou stuur om my volk te red,” sê God. Krag om God se werk te doen is nie iets wat in onsself setel nie. Al die krag kom van God af. Hy maak ons sterk vir sy werk. En sy krag lê in ons roeping om vir Hom te leef en sy lig rondom ons te laat skyn in Jesus se Naam.

Gideon het nie ’n behoorlike idee wie God is en wat Hy vir Hom moet gaan doen wanneer hy hier in Rigters 6 geroep word nie. Maar hy doen nogtans 'n mooi ding: hy nooi God dadelik vir ’n ete. Trouens, hy vra so ewe vir God of Hy sou omgee om te wag terwyl Gideon vir Hom 'n groot ete voorberei. Dan doen God dit. Die Almagtige God van aarde en hemel wag op sy sukkelende kneg wat vir hulle 'n feesete voorberei. Aangrypend! En dan stuur God hemelse vuur om die ete saam met sy aardse kneg te vier. Dadelik besef Gideon toe hy is regtig in die teenwoordigheid van die God van hemel en aarde. Hy het met die lewende God geëet. Hy, die wegkruiper, die twyfelaar, die swakkeling, het net daar in een ontmoeting verander in ’n dapper held, ’n sterk een daarby! God se krag het sigbaar geword in sy lewe.

Leer asseblief by Gideon dat God altyd spesialiseer in swakkelinge, nuttelose mense en wegkruipers. Selfs ’n brose, bang Gideon kan in God se oë in een oomblik verander tot ’n held. Ook in jou lewe is dieselfde God aanwesig. Eet saam met Hom, leef saam met Hom, leef vir Hom met die krag wat Hy verleen.


bottom of page