Omgekrapte, ontstelde, onderstebo emosies
top of page

Omgekrapte, ontstelde, onderstebo emosies


Ek maak my nie besorg oor groot dinge nie, dinge wat bo my vermoë is. Ek het rus en kalmte gevind. Soos ‘n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind. (Ps 131 Nuwe Vertaling)

‘n Amerikaanse vriend hier in Londen het onlangs slegte nuus gekry: sy pa daar ver in Amerika van wie hy eintlik vervreemd is, het kanker. En boonop was daar drie terroriste aanvalle in Londen en Manchester. Die arme man vertel net hoe “discombombulated” hy is – omgekrap, ontsteld, met emosies wat heeltemal onderstebo is.

Dis so maklik dat slegte nuus of teëspoed ons gemaklike ewewig heeltemal onderstebo kan keer. Selfs net die ellende van ‘n swaar verkoue laat my in ‘n gat van selfbejammering verval. Die laaste ding wat ek dan wil doen, is om saam met Dawid te sing van God se mag en in die oggend te jubel oor sy trou.

Maar dit is juis wanneer ek moeg is of voel dat God van my vergeet het, dat ek my vir ‘n rukkie moet losmaak van my daaglikse roetine sodat ek net weer kan fokus op wie my God is. Of ek nou ook weggaan vir ‘n dag of ‘n naweek “retreat” of my in my gereelde stiltetyd afsonder of sommer net gou tydens my middagete ‘n rustige plekkie opsoek – om net weer te fokus op wie God is, gaan die wêreld se verskil aan my deurmekaar gemoed maak.

Wanneer ek antwoorde by God soek, in sy Woord (die Bybel) delf en myself (my hart en verstand) oopstel vir die vernuwende werking van sy Gees, gaan ek weer vastigheid kry onder die voete van my weifelende geloof. Want, wat in my hart aangaan, bepaal my hele lewe. Mense soos Stephan Joubert, Rudi Buys, Joyce Meyer, Caroline Leaf en wyle Louis Kroon verduidelik hoedat die stryd eintlik in my denke aan die gang is. Wanneer ek God toelaat om my gedagtes en gesindhede in die regte rigting te stuur, lei dit tot gesonde woorde en dade en help dit my om opbouende besluite te neem en om gesonde verhoudings te bou.

Dis nie nodig om heeldag en aldag ontsteld en omgekrap te wees nie, ek kan leef vanuit die waarheid van 2 Timoteus 1:7 For God did not give us a spirit of timidity or cowardice or fear, but [He has given us a spirit] of power and of love and of sound judgment and personal discipline [abilities that result in a calm, well-balanced mind and self-control]. (Amplified Bible)


bottom of page