‘n Groot “D” waarvoor jy moet leef
top of page

‘n Groot “D” waarvoor jy moet leef


‘n Katkisasieboek uit my kinderjare het ons gewaarsku teen daardie drie groot D’s – dans, drink en dobbel! Dit het my toe al laat besef ons kan so so teen alles wees dat ons nie enige tyd oorhet om vir die Here se dinge te wees nie. Ons roeping is om vir God te leef, nie teen die sonde nie! Nee, ons het nie ‘n lisensie om sonde te doen nie, maar sondestryde mag nooit ons hooffokus word nie. Die doel van geloof is om elke dag ons oog op God te hou. Van die regte fokus gepraat: daar is een groot D waarvoor ons almal moet leef: Dankbaarheid. Ons hele lewe moet eintlik net gaan oor dankie sê en dankie doen. Alles in ons moet oor en oor “dankie” uitroep aan die Here omdat Hy ons gered het. In elke gesprek moet mense ervaar hoe liefdevol ons wonderlike God is. En dat Hy oordadig lief is vir alle mense. Ons lewens moet megafone van dank wees. Kolossense 3:17 moet ons daaglikse leef-kompas wees: Jesus moet uit julle hele lewe straal. Of julle praat of iets anders doen, Jesus moet daarin gesien kan word. Julle lewe moet een groot dankie vir God wees.


bottom of page