Pride versus humility [resensie]
top of page

Pride versus humility [resensie]


Derek Prince. Pride versus humility. Whitaker House. 2016

Derek Prince is as seun van Britse ouers in Indië gebore. Hy kry die beste opleiding aan Engelse universiteite en as filosoof beskou hy homself as ‘n agnostikus, dit is, iemand wat bely dat jy nie kan weet of God bestaan nie en daarom is geloof onsinnig. Terwyl hy deel het aan die Tweede Wêreldoorlog bestudeer hy die Bybel as ‘n filosofiese werk. In ‘n kragdadige ontmoeting met Jesus kom hy tot bekering en word hy gedoop met die Gees, en uit dié ondervinding kom hy tot die gevolgtrekking dat Jesus lewend is en dat die Bybel die waarheid is en relevant is vir ons dag. Hierna trou hy met ‘n vrou wat ‘n weeshuis in Jerusalem ná die oorlog open, Prince bestuur ‘n onderwysopleidingsinstansie en beleef die skepping van die staat Israel. Later dien hy as pastoor van ‘n gemeente in Amerika, skryf verskeie boeke wat wêreldwyd invloed uitoefen en tree as spreker regoor die wêreld op.

In dié boek beskryf Prince wat hy universele geestelike wette noem wat altyd en oral geld. Een so ‘n “wet” is vervat in Jesus se woorde in Matteus 23:12, “Dié wat vir hulleself eer soek – God sal hulle verneder. Maar dié wat hulle geringheid voor God besef – God sal hulle hoog vereer” (in die gawe Nuwe Lewende Vertaling se woorde). Hoogmoed was betrokke by die sonde in die Tuin van Eden en het bygedra tot die mens se val net soos Esegiël 28 vertel van die engel wat hoogmoedig geraak het se val.

God se doel met die mens se skepping was om in ‘n verhouding met die mens te staan. Daarom het Hy Homself in die mens belê en is die hoogste in die mens ingebou, asook die laagste. Die mens is geskep om Hom sigbaar te verteenwoordig en namens Hom gesag uit te oefen. Daarom is die twee belangrikste eienskappe van die verhouding tussen mens en God gemeenskap en afhanklikheid.

Na die val van die mens kom Jesus as God wat Homself verneder om die mens van sonde te red. En dit stel die mens in staat om met Christus te identifiseer. Daarom verduidelik Efesiërs 2 dat God die mens in Christus lewend maak, ons saam met Christus uit die dood opwek en ons saam met Christus in die hemelse sfeer laat sit.

‘n Lewe wat nie in afhanklikheid van God geleef word nie, is gemotiveer deur trots en hoogmoed. Nederigheid bestaan daaruit dat jy weet hoe nodig jy Christus het, en dat jy in afhanklikheid van Hom jou lewe inrig.

Prince beklemtoon hoe nodig dit is dat jy nederig is wanneer jy in ‘n leiersposisie is asook in alle onderlinge verhoudings met ander. En hy bly getrou aan die Bybel. Hier kry jy goeie lering oor ‘n belangrike onderwerp.


bottom of page