As ek vir my kinders nog een ding kon sê...
top of page

As ek vir my kinders nog een ding kon sê...


Deesdae het almal 'n bucket list. Ekself het ook 'n bucket list, waarin een van die dinge wat ek nog graag wil doen, is om die Tankwa Camino te gaan stap. Ek is mal oor stap en die Karoo is een van my gunsteling plekke, So dalk vertel ek julle nog eendag van my staptog! Onlangs het ek egter gedink wat ek baie graag vir my kinders sou wou sê as ek nog net een kans vir 'n prekie gehad het.

Glo dit of nie, my woorde sou uit Prediker gekom het. En dit sou nie wees: Dit is alles tevergeefs nie! Ons kinders is reeds uit die huis en getroud en terugskouend dink ek dat ons in ons kinderopvoeding ons bes probeer het, maar ook (miskien uit onkunde) baie foute gemaak het. Ek is baie dankbaar teenoor 'n liefdevolle, genadige Vader wat al die los drade van onkundige ouers kan optel en in die proses oulike godvresende jong volwassenes kan oprig.

My kinders, my boodskap vir julle uit Prediker:

* Prediker 9:10 - Doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen

Ons wil so graag sien hoe ons as Christene 'n verskil maak. Hoe ouer ek egter word, hoe meer besef ek dat 'n mens juis 'n verskil maak, as jy elke taak wat jy aanpak, hoe klein ookal, met entoesiasme en werkywer aanpak. Jou lewe sal 'n impak he, as jy alles wat jou hand vind om te doen, met toewyding doen. My kinders, blom daar waar julle geplant is.

* Prediker 11: 1 - Gooi jou brood op die water, want na 'n lang tyd kry jy dit terug.

Wees vrygewig, met jou geld, met jou goed en met jou tyd. Wees goed vir ander mense.

* Prediker 11: 8 - Ongeag hoe lank jy lewe, geniet elke oomblik daarvan.

God wil he dat ons die lewe as 'n gawe van Hom moet geniet. Vind vreugde in jou werk. Vind veral vreugde in klein dingetjies. Lag baie en lag ook sommer vir jouself.

* Aan die einde van sy lewe kom die Prediker tot 'n belangrike gevolgtrekking. Die heel belangrikste wat ek graag vir my kinders sou wou se: Prediker 12:13 - Wees eerbiedig teenoor God en gehoorsaam sy gebooie.

In haar boek: 101 Inspirasie-oomblikke skryf Lindie Strydom: "Dien, doen en geniet - dit is wat jy die wêreld kan bied." Dit klink eintlik heel eenvoudig. My kinders, moet dus nie te veel wroeg oor die lewe nie: doen dit wat jy doen goed, wees goed vir ander, geniet die lewe en die belangrikste, dien God met oorgawe.


bottom of page