Gebed tref baie verder as jou huis se plafon
top of page

Gebed tref baie verder as jou huis se plafon


Soms voel dit asof ons teen ons huis se plafon vasbid. Dan is dit asof daar ‘n besetkode hemelwaarts is. Ons klop aan die hemelse deure, maar dit bly toe. Ons pleit en smeek, maar dit klink of ons gebede op dowe ore beland. Gelukkig is ons nie alleen wat sulke gevoelens betref nie. Bybelskrywers soos Paulus het ook sulke “stiltes” beleef. In Romeine 8:26 sê hy ons grootste swakheid is dat ons nie altyd weet wat en hoe om te bid nie. Maar Paulus stop gelukkig nie hier nie. Hy skryf verder dat die Gees vir ons intree in sulke tye. In ons geestelike windstil dae is dit die Heilige Gees Self wat vir ons bid. Hy sug en praat namens ons met God wanneer dit voel of ons gebede kragteloos is. Die beste nuus van alles is dat God altyd luister na sy Gees se gebede! Hy laat geen gebed van die Gees leweloos terugval aarde toe nie.

Ons troos is dat die Heilige Gees vir ons bid. Maar die goeie nuus stop steeds nie hier nie. Paulus skryf verder in Romeine 8:33-34 dat Jesus ook aan die regterhand van God is en dat Hy ook vir ons intree. Ons is regtig in goeie hemelse hande. Die Heilige Gees en Christus praat met God oor ons as Sy kinders. Christus en die Gees se gebede is loshande die kragtigste gebede in die hele heelal. Hierdie intredes vir ons by die Vader maak die wêreldse verskil in die hemel, selfs al verander dinge nie noodwendig in ’n oogwink hier aan ons kant van die draad nie. Wanneer dit partykeer voel asof daar ’n besetkode hemel toe is, troos Romeine 8 se super-woorde ons dat al die Gees en Christus vir ons bid. Ons hou vandag en elke ander dag vas aan Jesus en die Gees as ons groot Voorbidders. Die Gees vul ons stomheid aan met die regte woorde voor God se troon. En Jesus gedurig vir ons in by die Vader. Die goeie nuus is dat daar geen plafon tussen God en ons is nie.


bottom of page