Gebed – ‘n gesprek met God [resensie]
top of page

Gebed – ‘n gesprek met God [resensie]


Dit was soos om ‘n ou vriend raak te loop. Dié boekie het ek as ‘n tiener gelees en dit het ‘n groot invloed op my lewe uitgeoefen as een van die klassieke werke oor gebed. En nou is dit ook in Afrikaans beskikbaar, danksy CUM wat die vertaalwerk behartig het.

Wat is gebed? Indien jy ‘n verkeerde idee het van wat gebed is, kan dit maklik die hindernis word hoekom jy nie gebid kry nie. En ek vermoed dat daar baie Christene is wat stry met die probleem dat gebed vir hulle moeilik is, iets waarby hulle nie gereeld uitkom nie.

Die skrywer verduidelik dat die sleutel tot die deur van hemelse kommunikasie die eenvoudige gespreksgebed is. In jou gesprek met die Here is jou ware doel om op Hom te fokus. Vergeet van jouself en die indruk wat jy op ander maak.

Die boekie stel vrae soos: wat is die wese van ‘n gesprek? Tot wie moet ons bid? Waarom is dit belangrik om hardop saam te bid? Waarom moet jy op jou eie bid? Wat is geloof? Hoekom word party gebede nie verhoor nie? Wat is geloofsgrootte versoeke?

Wat die boek uniek maak, is dat die vrae deurgaans beantwoord word vanuit die wêreld waarin die skryfster leef. Sy vertel verhale van wat met haar en die mense in haar wêreld gebeur het. So vertel sy van ‘n vriendin wat binne ‘n minuut drie en dertig keer “Here” gebruik het, soos ‘n leesteken. Rosalind het vir haar gevra: “Tot wie bid jy?” Sy het geantwoord: “Seker tot Jesus.” Rosalind het verduidelik hoe belangrik dit is om met ‘n lewende Persoon te praat wanneer sy bid, om daarop te konsentreer dat sy in ‘n verhouding staan met die Een met wie sy praat. En dit het die meisie se gebedslewe verander en verryk. Dit is belangrik dat ons die Vader, Jesus en die Gees as aparte persone leer ken in ons gebedslewe.

Wat bedoel die skrywer met geloofsgrootte-gebede? Dis ‘n versoek vir ‘n spesifieke situasie, waar jy bid vir ‘n persoon of saak, en net dit vra wat jy regtig glo God sal doen, binne ‘n gegewe tydperk. Dit is ‘n eerlike erkenning van die grootte (en beperking) van jou geloof. Net een van verskeie interessante konsepte wat in die boek behandel word.

Dié boekie het my geleer dat as jy jou idee verander van wat gebed is, dit jou gebedslewe transformeer sodat dit die wyse word waarop jy die Here se teenwoordigheid beleef. En as jy dit gereeld doen, dra dit sy teenwoordigheid in jou daaglikse lewe in.


bottom of page