top of page

Ons dien onsself in ander se lewens in


Kom ons wees eerlik: ons lewens verloop nie aldag soos wat ons dit beplan het nie. Nou ja, dan moet ons die kuns baasraak om sulke onbeplande momente in Goddelike momente te omskep. En om ons bestaande omstandighede aanhoudend in Goddelike glans te tooi. Ons moenie wag totdat ‘n hemelse trompet eers langs ons begin blaas voordat ons in beweging kom vir die Here nie. Ons moet elke dag op die uitkyk wees vir daardie spesiale momente om ‘n verskil in iemand se lewe te maak. Of dit self skep. Ons hoef regtig nie te wag tot iemand ons om hulp kom vra nie. Ons moet toelaat dat die Gees ons fyn instel op ander se geestelike en fisiese nood. Dan moet ons onsself hoflik en met die nodige deernis tot hulle diens stel. Nee, ons dring onsself nooit op aan ander mense nie, maar ons dien onsself in Christus se Naam in hulle lewens in. Ons mag nie een aand gaan slaap sonder so ‘n omgee of liefhê moment iewers in ons dag nie. ’n Handdruk, ’n gebed, ’n paar sente, ’n woord van bemoediging- so omskep ons ons en ander se lewens in Goddelike oomblikke. Kom ons wees mense wat die wêreld omsoom met hemelse hoop, geloof en liefde.


bottom of page