300 Geloofsvrae en Bybelse antwoorde [resensie]
top of page

300 Geloofsvrae en Bybelse antwoorde [resensie]


Riekert het bekend geword as aanbieder van die Pleisters vir jou siel-radioprogram. Uit die program het ‘n klomp boeke met dieselfde titel verskyn. Vandag is hy bekend as spreker en prediker, skrywer en openbare figuur wat dikwels oor die media optree.

Oor die jare het gelowiges dikwels hulle kwelvrae met hom gedeel. Mag ‘n vrou optree as leraar? Hoekom sê die Bybel uitdruklik sy mag nie? Wat is die waarde van vas vir vandag? En wat is nodig om te weet as ek belang stel om te vas? Wat beteken “erfsondes”? Beteken dit dat ek gestraf word vir sondes wat my ouers gedoen het? Die Bybel verduidelik immers dat die sondes van die vaders besoek word aan die kinders tot in die derde en vierde geslag!

Riekert se antwoorde is op die man af, soos ‘n mens gewoond geword het dat hy ook oor die radio praat. En dit is Skrifgebonde. Hier het jy ‘n hulpmiddel wat jy kan vertrou omdat dit Bybelsgebaseer is.

Moet ‘n mens in jou lyding berus en maar aanvaar dat dit die Here se wil vir jou lewe is? Is dit gepas en reg dat daar in sommige kerk ‘n uitnodiging gegee word aan die einde van die diens vir mense wat hulle saak met die Here wil regmaak? Wat dan van die uitverkiesingsleer wat verduidelik dat ‘n mens nie vir God kies nie maar dat Hy jou kies?

Is die antichris ‘n werklikheid? Is hy reeds aan’t werk in die wêreld? Hoe sal ons hom uitken vir wie hy eintlik is? En hoe kan ek myself teen New Age-gelowe beskerm wat skynbaar al meer populêr word, soos dat jy “black magic” met “white magic” moet beveg?

Indien ‘n vrou swanger word na ‘n aborsie, is dit verkeerd as sy as gelowige ‘n aborsie ondergaan? Hoekom is aborsies verkeerd? En is dit ook verkeerd om ‘n baba te aborteer as daar vasgestel is dat die baba ‘n genetiese afwyking soos Down-sindroom het? Is dit reg om mense met masjiene aan die lewe te hou, of meng dit in met God se plan vir ‘n lewe? Aan die ander kant is daar weer gelowiges wat jou vertel jy pleeg moord as jy die masjiene laat afskakel. Wie is reg?

As jy met kwelvrae rondloop, is die kans goed dat jy iets daarvan in dié omvattende boek gaan kry. En met die oog op vrae wat op die pad vorentoe mag ontstaan, is dit ‘n goeie idee om Riekert se boek byderhand te hou.


bottom of page