8 tale van die brein [resensie]
top of page

8 tale van die brein [resensie]


Jou kind is slim, ongeag of die skoolrapport dit wys of nie. Almal wil slim wees. As ‘n kind glo ander kinders is slim en hy of sy is nie, dan gee die klein mensie soms vroeg moed op. Hulle verlaag hulle verwagtinge wat veroorsaak dat hulle nooit hulle Godgegewe potensiaal verwesenlik nie. Taal is kragtig; ons glo wat ons sê. En dit geld nie net van kinders nie; dis ook waar van volwassenes.

Deur die taal van ‘n netwerk van veelvuldige intelligensies te gebruik, kan ‘n mens jou kind ook as slim sien. Dalk nie woord-slim nie. Daarom wys die rapport dit moontlik nie. Maar wel logika-slim, of prentjie-slim, of musiek-slim, of liggaam-slim, of natuur-slim, of mens-slim, of self-slim, of, meer waarskynlik, ‘n kombinasie hiervan. Dis die goeie nuus. Jou kind is slim in terme van een of meer van die onderskeie intelligensie-tipes wat bestaan, wat insluit intrapersoonlike en interpersoonlike intelligensie, liggaamlik-kinestetiese of naturalistiese intelligensie, visueel-ruimtelike of musikale intelligensie, logies-wiskundige of taalkundige intelligensie. Daarom dink ons kinders ook anders; party dink met woorde, ander met vrae, nog ander met prentjies, ritme en melodieë, beweging en aanraking, patrone, mense of diep nadenke. Die teorie van veelvuldige intelligensies is vandag ‘n meer akkurate wyse om die verskillende maniere te verstaan waarop mense leer en idees verwerk as die onderskeid tussen linkerbrein- en regterbrein-dominant.

Elke mens word met elk van hierdie agt kenmerkende intelligensies of tale gebore. Maar die intelligensies moet aangewakker word, al is dit reeds van geboorte in jou ingebou. As ‘n kind se ouer afwesig of apaties is, gebeur dit dat die intellilgensies swak ontwikkel bly by die kind. Sulke kinders glo dan dikwels die leuen dat hulle dom is. Die gehalte van opvoeding maak dus wel deeglik saak.

Wat kan jy as ouer doen om dié intelligensies in jou kind aan te wakker en te laat ontwikkel? Dit is waaroor dié boek handel. Net 20% van die verbindings tussen die 100 miljard neurone, die selle wat die brein se inligting oordra, is by geboorte gevorm. Die res van die verbindings tussen die brein se neurone word gevorm voor ons die ouderdom van 25 jaar bereik. As jy iets ‘n paar keer doen, sal dit nie na ‘n onveranderlike verbinding lei nie, maar herhaaldelike oortuigings en optredes lei wel tot onverbreekbare verbindings. Daar is groei by jou kind moontlik

Wat nodig is, is meer selfvertroue, ‘n nuwe manier om oor gedrag en slimheid te praat, ensomeer. Te veel om op te noem want dit is waaraan die boek gewy word.

Ek dink jy het ‘n idee hoekom hierdie boek so belangrik vir ouers is. Ons skep die wêreld waarin ons kinders leef, en ons skep hulle selfbeeld. Kathy Koch vertel jou hoe jy dit positief kan doen, om ‘n intelligente kind te skep wat die lewe se uitdagings sinvol kan hanteer.


bottom of page