Sommige Christene kan gerus doen met ‘n knippie verhoudings-wysheid
top of page

Sommige Christene kan gerus doen met ‘n knippie verhoudings-wysheid


‘n Rukkie gelede tree ek op by ‘n plek op waar ’n vrou na die tyd vorentoe kom om met my gesels. Sy begin teenoor my bieg dat sy ‘n moeilike tyd het om sommige van haar familieverhoudings in stand te hou. Sy verduidelik dat party van haar wyer familie-lede moeilike mense is om mee saam te leef en dat hulle haar uitgesluit laat voel. Soos wat sy aangaan begin ek egter ‘n paar observasies van my eie te maak.

Eerstens is dit asof sy onbewus is daarvan dat sy die hele tyd sonder ophou praat sonder om my enige kans te gee om ‘n vraag te stel, of ‘n opmerking te maak. Dis egter nie dat ek nie probeer het nie! Dis asof sy ‘n gebrek aan selfinsig gehad het.

Ek het tweedens ook die indruk gekry dat sy geen benul het van die uitmergelende en dreinerende impak wat sy op my het nie. Haar praatstyl is so onsensitief, oorweldigend en selfregverdigend dat sy soos ‘n golf negatiewe energie bo-oor my spoel.

Ek kon egter sien dat sy oënskynlik ‘n goeie mens is. Sy het ‘n goeie hart. Sy ken die Here en woon al jare lank ‘n goeie Bybelskool by. Sy het my vertel hoe Jesus haar gered het en dat sy Hom volg as haar Koning. Nee, geloof en ‘n goeie hart was nie haar probleem nie. Haar probleem was ‘n tekort aan verhoudings-wysheid. Spreuke sê: ‘n Dwaas se mond is sy ondergang… (18:7). Omdat sy sonder wysheid opgetree het het dit haar verhoudings versuur.

“… vir die man wat praat sonder om eers te dink, is daar minder hoop as vir ‘n dwaas” (Spreuke 29:20).

Ek kon dus nie help om te begin wonder of haar familie werklik so skuldig aan wangedrag is as wat sy beleef nie. Is sý nie dalk die eintlike probleem nie? Is sy nie dalk besig om onwetend en onbewustelik soveel negatiewe boodskappe uit te stuur na die mense om haar dat hulle dit uiters moeilik beleef om haar met die nodige respek en waardigheid te behandel nie?

Verhoudings-wyse mense is mense wat gewoonlik hulle omgewing en die mense rondom so goed kan lees dat hulle kan antisipeer watter soort gevoelens hulle woorde en dade by mense sal wek. Hulle weet dus intuïtief watter soort optrede en watter woorde gepas is in ‘n spesifieke situasie. Soos hierdie vrou, besef sommige mede-gelowiges ongelukkig nie watter negatiewe emosionele effek hulle veroorsaak by ander mense nie. Soms praat ons net te veel; ander kere lees ons eenvoudig nie ons konteks nie en sê ons dinge wat onvanpas is, of ons raak onnodig kwaad en in ander gevalle gebruik ons taal wat mense uitsluit. Dis nie altyd omdat ons slegte mense is nie, of omdat ons nie probeer om Jesus opreg te volg nie. Ons tree soms net dwaas op. Wysheid is wat ons kort.

In die Nuwe Testament word wysheid egter gekoppel aan Jesus self. Paulus sê: Jesus is “die wysheid van God” (1 Korintiërs 1:24). Dalk moet ons leer om Jesus meer prakties te volg in ons verhoudings, nie slegs as ons Koning en Redder nie, maar ook as ons Wysheid.


bottom of page