Rook verbode
top of page

Rook verbode


Dit is 1991 en my pa is baie kwaad. Oral in die huis het sy beste pal, oom Fritz, plakkers opgeplak wat rook verbied. Hoe kan my pa dan nou kwaad word; dit is net soos wat die kardioloog beopdrag het! Hy trek al die plakkers van die deure af. Ek onthou nog die besoek aan die kardioloog toe hy vir my pa sê om op hou te rook anders gaan hy begraafplaas toe. My pa se antwoord op die waarskuwing was dat hy al baie mense begrawe het; nie-roker en rokers en ons almal sal eendag daar opeindig. My pa neem nie sy gesondheid ernstig op nie; hy weet nie hoe seer dit ons in die huis maak nie.

Ek kan nou sien hier op 15 jarige ouderdom my pa is werklik siek na die hartaanval. Terwyl hy preek gee hy vir my ma ‘n geheime sein en sy bring vir hom ‘n klein pilletjie wat hy onder sy tong sit. Ek verstaan nie hoekom gaan rus my pa nie of hoekom neem hy nie ‘n tipe lang verlof nie. Is dit omdat die ou predikante en baie gelowiges glo dat hulle ‘n marteldood moet sterf? Gelukkig en ongelukkig het daar ‘n ommeswaai gekom in die teologie van martelaarskap. Ek sê ongelukkig want die pendulum het te ver geswaai na die kant van die ‘prosperity gospel’. Iewers moet ‘n middel wees tussen die seer van die kruis en die oorwinning. Christendom is soos ‘n goeie rooiwyn: bitter maar tog soet.

My pa is weer in die hospital; hy praat nie daaroor nie en my ma sê vir ons niks nie. Ek weet nie of hy ‘n beroerte gehad het of nie. Ek raak nou kwaad.

My pa dien dan nie Here en hoekom val sy gesondheid dan nou uitmekaar. Hy lewe vir ander mense en plaas sy gemeente eerste. Dalk is dit die problem met baie van ons predikante en geestelike leiers; ons dink ons moet ander se lewens eerste plaas. My praktiese teologie professor het altyd gesê; gaan kyk na die lugwaardin. Sy sê jy moet eerste die suurstof masker op jou sit en daarna op die swakkeres anders beteken jy niks vir ander wat swakker is, as jy dan nou ook flou val. En dit is presies wat met my pa gebeur het; terwyl hy die suurstof masker vir ander opgesit het, het hy versmoor.


bottom of page