Gebed is nie ’n geestelike Google-oefening nie
top of page

Gebed is nie ’n geestelike Google-oefening nie


Wanneer mense na informasie oor enigiets of enigiemand soek, dan Google hulle dit. Sulke soektogte lewer gewoonlik derduisende treffe op in milli-sekondes. Wel, gebed is nie die hemelse teenvoeter vir Google, waar ons teen rekordspoed antwoorde moet kry op al ons vrae en probleme nie. Op hierdie manier gaan ons nooit na God toe nie. Ons storm nie in die hemelse troonsaal in met die doel om elke keer daar weg te loop met ’n antwoord, ’n deurbraak, of ’n gebedsverhoring binne ’n nuwe rekord-tyd nie. Want gebed werk nie soos Google nie. God is die Here. Daarom buig ons elke keer in nederigheid voor Hom. Ons dien en aanbid Hom op sy terme. \

Gebed werk ook nie soos 'n geestelike telbord waar die beste bidders se deurbrake in hoofletters pryk vir almal om te bewonder nie. Sulke idees water gebed af tot ‘n hemelse verbruikersdiens. C. S. Lewis sê tereg God is nie “a Grandfather in heaven” wat net moet sorg dat almal ‘n goeie tyd het en dan uit die pad moet staan nie. God se wil druis gewoonlik teen ons eie selfsugtige planne en gebede in. God is regtig nie ‘n een-stop hemelse diens nie. God is ons hemelse Vader wat ’n lewende verhouding met ons as sy kinders en wil groei en in stand hou.

Ons bid nooit net nie om te ontvang nie; ons bid om God te verheerlik. Ons bid om sy Naam te eer. Ons bid om sy wil te laat gebeur. Ons is hier vir die Here se plesier; ons gebede ook. Ware gebed is daarom die uitdrukking van 'n nederige lewende verhouding met God. Dit is aanbidding, verwondering, nederigheid en rus. Gebed is om God toe te laat om ons op sy eie terme genadig te wees en ons gebede te verhoor.


bottom of page