Die opposisie roep versterkings in wanneer jy in die omgewing is
top of page

Die opposisie roep versterkings in wanneer jy in die omgewing is


God gebruik nie groot skares om die wêreld te verander nie. Regtig! Dink maar aan ’n Moses, Elia, Jeremia, Daniël of ‘n Paulus. Hierdie handjievol indiwidue wat God onverskrokke op sy woord gevat het, het die wêreld se koers vir altyd in God se rigting verander. Moenie wag op meer hulpmiddele, geld of skares voordat jyself in beweging kom vir God nie. Met jou eie hand stewig in die drie-enige God se sterk hand is jy mans genoeg of vrou genoeg om groot vestings in te neem. So skryf Paulus in 2 Korintiërs 10:4-5. Jy is ‘n volledige hemelse weermag. Jy is deel van ‘n hemelse meerderheid. Die oormag is by jou, nie by die getalle teen jou nie! EEN plus een is altyd ‘n meerderheid, solank die eerste EEN in jou formule God is. Die vyand sidder as jy begin bid, en as jy oor Christus begin praat. Opponente van God ontbied elke slag versterkings as jy in die omgewing is. Jy is ‘n lewende verskil omdat Christus die Here is en die Gees van God jou lei. Jy is ‘n moderne Daniël wat selfs leeus se bekke laat toegaan van skrik. Glo dit en leef dit.


bottom of page