‘n Kerk vir die dooies?
top of page

‘n Kerk vir die dooies?


Ek het een keer die verhaaltjie gehoor van ‘n Engelse dominee wie se kerkie leeggeloop het. Op ‘n dag het ‘n amptenaar van sy kerk se sinode vir hom kom sê hulle gaan sy gemeente sluit tensy hy iets dramaties regkry binne die volgende drie maande. Moedeloos gaan stap die leraar een middag deur die begrafplaas waar hy oor baie jare die een gemeentelid na die ander begrawe het. Toe hy weemoedig na die grafte kyk, val dit hom by dat een van die oorledenes op ‘n dag vir hom gesê het hy sal na sy dood op Sondae ‘n draai in die kerk kom maak omdat dit so lekker daar was. Toe kry die dominee ‘n idee. Hy het homself verbeel dat al die gemeentelede wat reeds gesterf het skielik weer Sondae sy kerkie vol sit. Hy het hulle name sommer ook weer in sy kerk se lidmaat-register ingeskryf. Sondae het die dominee toe vir al sy dooie lidmate gepreek asof hulle almal daar gesit het. Toe die amptenaar van die kerk drie maande later weer by die leraar kom besoek aflê, kon hy sy oë nie glo toe hy in die gemeente se boeke lees hoe die lidmate skielik begin groei het nie. Maar hy het nie geweet dat dit eintlik die dooies is wie se name opnuut op die kerk se boeke verskyn het nie. Op hierdie manier kon die ou leraar rustig voortgaan met sy bediening aan leë sitplekke wat in sy verbeelding op Sondae met al die dooies gevul was.

Hierdie verhaaltjie ontlok ‘n stukkie deernis by mens vir ‘n moedelose prediker wat alle kontak met die werklikheid verloor het. Ons mag nooit in dieselfde put as hy beland nie. Ons moet in pas met Christus leef in 2017. Hy is op ‘n dinamiese wyse met sy kerk deur die geskiedenis onderweg. Natuurlik sal die lewende Water wat Christus deur alle eeue aan mense uitdeel, nooit verander nie. Maar die houers waarin Hy wil hê dat ons dit na ‘n dorstige wêreld toe moet aangee, moet relevant bly binne ons eie konteks. Die tydlose evangelie van Christus moet elke sag kraakvars nuut gehoor, geglo, uitgeleef en gedeel word. Anders gaan die huidige kerklike stagnasie en die voortslepende emigrasie uit die kerk nie gestuit word nie. Die bewys van die aanwesigheid van die egte evangelie van Christus is dat dit steeds hier in ons eie dag mense se lewens aanraak en verander. Sorg asseblief dat jyself in pas met Jesus se voetval bly, dan hoef jy nie eendag saam met die dooies kerk te hou nie.


bottom of page