Stamboom – waar pas ek in?
top of page

Stamboom – waar pas ek in?


“Andries Johannes de Jager het my vir ses jaar lank ontwyk. Ek het gaan soek aan die bokant van die boom by die De Jager stamvader - no luck. Op die Nasionale Argiewe se website – Niks. LDS se internasionale databasis - kom nie reg nie. Hou op soek. Anglo Boere Oorlog Museum se website - geen geboortedatum of familie nie. Hou op soek. Kyk toe na hulle vrouens. Een is toe wel Ferreira, maar ‘n ander een is DE BRUYN! DE JAGER, ADRIANA JACOMINA. NEE DU BRUYN. En siedaar – my oupa Andries Johannes du Bruyn de Jager se stamboom maak sin!”

- Dis die verslag van ons dogter wat met groot toewyding besig is om ‘n omvattende familie-stamboom te bou.

So het ek ook die opwinding gesmaak van die plek te vind waar ‘n skynbaar onbeduidende stukkie in die groter legkaart inpas. Ek het die storie van Rut ontdek en in diepte bestudeer in ‘n tyd toe ek jare gelede moes uithelp in ons klerefabriek – ‘n fisies en emosioneel takserende taak vir ‘n vrou met ‘n kunstenaarshart. Rut was bereid om hard te werk in ‘n vreemde land, onder onbenydenswaardige omstandighede. Maar God het haar gesindheid, geloof en gehoorsaamheid raakgesien en haar geseën deur haar naam in sy eie Seun se stamboom in te skryf. Dit het my aangespoor om met die regte gesindheid oorweldigende spertye en werkers wat soms traag was, te hanteer terwyl ek God moes vertrou om uiteindelik sin te maak van die deurmekaar hoop blokkies wat lyk asof hulle nooit gaan inpas nie.

Ek sal dalk eers eendag in die hemel ontdek waar God my naam in sy komplekse stamboom ingeskryf het. Dalk is daar ook ‘n Billy Graham in my geestelike nageslag omdat ek bereid was om vir loskop tieners Sondagskool te hou. Dalk het die afgeremde kafee-eienares die waarderende woordjie nodig gehad om deur die res van haar dag te kom. Vir al wat ek weet het daardie bemoedigende oproep my vriend nuwe perspektief op sy moeilike werksomstandighede gegee. Of die keurig voorbereide maaltyd wat ek by my vriende gaan aflaai het wat pas ‘n geliefde aan die dood afgestaan het, het hulle herinner aan ‘n liefdevolle God wat besig is om kunstig te bou ook hulle lewenslegkaart.

Die blymoedigheid waarmee ek die alledaagse sleurwerkies doen, maak van die nederigste werk Koninkrykswerk omdat my gesindheid reg is. So word ek met my geloof en gehoorsaamheid die perfekte passtukkie wat God se legkaart voltooi en sin maak in sy ewigheids-stamboom.


bottom of page