Respek kos nie geld nie; dit kos karakter
top of page

Respek kos nie geld nie; dit kos karakter


Vir meer as tien jaar behartig ek ’n klein rubriek in die dagblad Beeld vanaf Dinsdae tot Saterdae. Dit is ook getiteld: Goeie Nuus. Die afgelope Saterdag het ek 'n verhaal gedeel waarvan die reaksie van letterlik duisende mense totaal onverwags en oorweldigend was. Te midde van party wat my afgestof het, het ander mense op Facebook en elders mooi getuienisse gedeel van hoe die Here hulle ook gebruik op verkillende maniere:

"My vrou en ek stop onlangs by die vulstasie op die R21 om brandstof in te gooi. Ons het biltong in die kar en deel dit al geselsend met die petroljoggie. Terwyl ons gesels sien ek hoe hy ontspan en begin skerts. Later, nadat ek betaal het, raak hy ernstig en sê: “I wish all white people could be like you.” “Hoekom?” wil ek verbaas weet. “Baie van hulle praat nie met ons nie, en as hulle dit doen is dit skerp en ongeskik,” sê hy met ’n stuk seer in sy stem. Ek is skoongeboul. Ons het niks vreemd gedoen nie; dit was net ’n geselsie en ’n bietjie van ons kos wat ons sommer so in die gesels gedeel het. Toe dink ek by myself dat as ons nie eens hierdie subminimum roete van vriendelikheid en respek teenoor mekaar kan navolg in ’n sogenaamde Christelike land nie, dan is ons in groter moeilikheid as wat ons dink. Respek is ’n kernbeginsel van die evangelie van Christus. Dit is die hartklop van God se wil, aldus 1 Petrus 2:15-17. Kom ons doen minstens net die subminimum vir mekaar in God se Naam. Om respek te wys kos nie geld nie. Of tyd nie. Maar dit kos karakter. Dit vra dat ons ander mense raaksien en ag. Dit vra dat ons mense om Christus ontwil met deernis behandel, selfs al doen hulle dit nie terug aan ons nie."


bottom of page