Ek is meer as my nuutste foute - God sê so!
top of page

Ek is meer as my nuutste foute - God sê so!


Ek lees in Jeff Goins se nuwe boek “Real Artists don’t Starve” van ’n gesprek wat hy met skrywer Steven Pressfield gehad het. “When does a writer get to call himself a writer?” het Goins hom gevra. Toe antwoord Pressfield: “You are when you say you are.” Wyse woorde. Te dikwels wag ons eers totdat ons suksesvol is met iets voordat ons onsself ’n skrywer, ’n sportman, ’n kunstenaar, ’n akteur, spreker, bemoediger, mentor of so iets noem. Dieselfde gebeur soms ook met ons geloof. Die meeste Christene vertel nie sommer dat hulle effektief vir die Here leef nie. Of dat hulle God se hart regtig blymaak nie. Hulle voel hulle is nog nie daar waar al die sogenaamde “groot” Christene is nie. Hulle meen hulle moet eers ’n paar geestelike deurbrake op hulle kerfstok hê voordat hulle dit durf waag om te sê hulle is toegewyde Christene nie. Fout! Voordat jy my verkeerd hoor, ek bedoel nie ons moet ’n oordrewe geestelike selfbeeld hê, of blind wees vir ons eie sondes nie. Ek praat eerder oor daardie slegte virus in ons sisteem wat maak dat ons gedurig voel ons doen te min vir die Here. En as ons wel die slag iets gedoen kry, dan is dit boonop nog te laat ook. So ’n leefingesteldheid lê ons lam om ons lewe effektief tot eer van God te leef.

Ons moet met groot oortuiging tree vir tree vir die Here leef en raaksien hoe Sy Gees ons vorm om ons woorde en dade in te rig tot Sy eer. Nooit sien ons ons eie mislukkings as die nuutste of finale opinie oor onsself nie, want die Here doen dit nie. Hy het ons lief op daardie einste plek in ons lewe waar ons tans is en Hy is op reis saam met ons om ons meer en meer na sy beeld te vorm, soos wat 2 Korintiërs 3:18 leer. Ons is lewenslank onder konstruksie van die Hemelse Bouer. Sy kreatiwiteit vorm ons lewe tot ’n loflied vir God. Al gebeur dit nie oornag nie, gebeur dit nogtans. Al sien ons nie aldag die groei in onsself raak nie, groei ons nogtans. Dit waarborg God se Gees. Daarom is ons eerste en laaste woord oor onsself nooit ons s’n nie, maar God S’n. En Hy sê ons is sy kinders omdat ons in Christus glo. Hy sê Hy sal vir altyd by ons wees. Hy sê niks of niemand sal ons uit sy hand ruk nie. Daarom sê ons dit vandag gelowig agterna. “Ons is geliefdes van die Allerhoogste wat sy hart vandag bly maak.”


bottom of page