Wees die regte brug op die regte plek
top of page

Wees die regte brug op die regte plek


Ek onthou daardie foto wat ek eenkeer gesien het van ’n rivier wat na oorstromings sy loop verander het. ’n Brug wat vroeër bo-oor die rivier gebou is, was skielik ’n paar honderd meter verwyderd van die nuwe vloei-patroon. ‘n Skrywer het later hierdie beeld toegepas op die kerk en gesê die kerk hou ook nie aldag tred met nuwe vloei-roetes in die lewe nie en verander dan in nuttelose brûe wat doer eenkant staan. Riviere hoef nie vir altyd binne dieselfde bane te vloei nie. Rivierwees gaan oor die vervoer van water, nie oor die instandhouding van bepaalde roetes nie. Onsself val soms vas in sulke uitgediende leefroetes. Ons vergeet so gou dit is ons funksie as gelowiges om die Here se lewende water te vervoer na daar waar dit nodig is; nie om geykte geloofsroetes in stand te hou nie. Ons is voltydse hoop-verspreiders in Jesus se Naam, nie handhawers van ou tradisies nie. Nee, tradisie is nie sleg nie. Ons moet mooi tradisies omhels wat vorige geloofs-generasies aan ons oorgelewer het om God beter te verstaan. Maar om godsdienstige gebruike in stand te hou wat nuwe generasies nie uitnooi na God nie, is ‘n fout. Dan is ons soos daardie nuttelose brug doer eenkant.


bottom of page