Die Here is ons Herder
top of page

Die Here is ons Herder


In Desember het ons familie die slegte nuus ontvang dat my pa lewerkanker het. Vir die afgelope vyf maande het ons die heilige voorreg gehad om saam met hom in die skaduwee van die dood te wandel. Gedurende een van hierdie Sondae het ons gemeente Psalm 23 saam gebid en gememoriseer. As deel van ons Psalm inoefening het elkeen van ons ’n stukkie wol om ons arms gebind om ons te herinner dat die Here ons herder is.

In die week nadat ek hierdie wol aan my pols gebind het, vra pa my uit oor hierdie stukkie rooi lint. Ek vertel hom toe dat dit my herinnering is dat die Here ons herder is. Pa vra toe dat ek die stukkie wol om sy arm sit. Ek bind toe die stukkie rooi om sy uitgeteerde arm en daar het dit aan sy krimpende gestalte gebind gebly tot met sy afsterwe.

Die Here is ons herder.

Soms dink ons dat die Here se herderskap ons lewens spaar van die pyn en lyding in hierdie wêreld. Dit is egter nie so nie. Die Here is ons herder in die groen weivelde en in die skadu van die dood. Op die dag van my pa se afsterwe het ek langs sy bed gesit en vir hom drie aangryplike gedeeltes uit die Nuwe Testament gelees. In 1 Korintiërs 15 lees ons oor die realiteit van die opstanding. In die Message parafrase eindig Paulus hierdie hoofstuk met die volgende,

It was sin that made death so frightening and law-code guilt that gave sin its leverage, its destructive power. But now in a single victorious stroke of Life, all three—sin, guilt, death—are gone, the gift of our Master, Jesus Christ. Thank God! With all this going for us, my dear, dear friends, stand your ground. And don’t hold back. Throw yourselves into the work of the Master, confident that nothing you do for him is a waste of time or effort.

Terwyl my pa stadiger en vlakker asemgehaal het lees ons toe Openbaring 21 en 22 saam,

”Kyk ek maak alles nuut”

en

“Die Gees en die bruid sê: “Kom!” En elkeen wat dit hoor, moet sê: “Kom!” En elkeen wat dors het, moet kom; elkeen wat die water van die lewe wil hê, moet dit kom kry, verniet!”

Toe ek hierdie gedeeltes klaar gelees het, het ek en my boetie daar in die skaduwee van die dood gesit terwyl pa sy laaste aardse asem uitgeblaas het. Maar dit is nie die einde van sy lewe nie.

Die Here is ons herder.

Ons is tans in die seisoen van Pinkster waarin ons onthou dat God vir elkeen van ons asem gee. Na my pa se dood is ek diep bewus dat ons tyd op aarde nie vir altyd is nie en dat ons daarom kan luister na Paulus se advies … “Don’t hold back … Throw yourselves into the work of the Master.”

Die Here is ons herder.

Shalom


bottom of page