As Hy jou iets vra, dan kán jy!
top of page

As Hy jou iets vra, dan kán jy!


Verskoon my, Here”, sê Moses toe vir die Here, “ek was nog nooit goed met woorde nie. Selfs hier waar ons met mekaar praat, haak my tong vas as ek iets moet sê.” Eksodus 4:10

.

Soms weet ons diep in ons harte dat ons iets móét doen. Dis asof die Gees saggies en aanhoudend vir ons fluister en aanmoedig om ‘n sekere pad te loop, ‘n spesifieke taak te verrig, iewers heen te gaan of vir iemand iets te sê. Heel dikwels is hierdie “Doen-dit-nou-opdragte” nie maklik nie. Dit sou beteken dat jy uit jou gemaksone sal moet beweeg en iets gaan doen wat nie noodwendig gerieflik is nie. Juis daarom is dit sulke tye maklik om “Nee” te sê. Om soos Moses, vir God te vra of Hy nie maar liewer iemand anders wil stuur nie.

Moses het hard probeer om God te oortuig dat hy nie die regte persoon is om die volk uit Egipte te lei nie. En die Here moes ‘n klomp dinge doen om die hakkelende Moses uiteindelik te oorreed om die groot taak aan te pak. Wanneer Moses uiteindelik instem, doen hy hierdie missie met groot passie en doelgerigtheid en ervaar Hy dat God elke tree van die moeilike pad sáám met hom trek.

God sal jou nooit vra om iets te doen en jou dan alleen daarmee los nie. Hy trek saam met sy kinders deur die woestyn en lei hulle tree vir tree tot by die beloofde eindbestemming.

Here, help my om te onthou dat U altyd saam met gestuurdes gaan.


bottom of page