Die vreugde van die Here is my krag
top of page

Die vreugde van die Here is my krag


Jare gelede het hierdie waarheid deel van my lewe geword toe ons huwelik stukkend was en ek as relatief jong Christen die waarde van lofprysing geleer het. Ek onthou hoedat ek as mamma-by-die-huis my dagtaak gedoen het terwyl ek met die lofliedjies van die dag of Psalms en Gesange die Here se lof besing het. My klein kindertjies het dit sommer so tussen ons daaglikse aktiwiteite ingekry en soms meegedoen sonder dat hulle bewus was van die seer binne-in my. Ek moet sê, soms het die trane geloop terwyl ek sing totdat ek ervaar het hoedat God self sy Woord waar maak waar Nehemia die volk bemoedig het met: “… die blydskap in die HERE – dit is julle beskutting.” (8:11 – ’53 Vertaling)

Dit was so dierbaar om dit ‘n paar jaar later in ons 8-jarige dogtertjie se lewe te kon sien gestalte kry, toe die gips aan albei arms waarmee sy ‘n paar weke moes loop, die dag afkom en sy in die swembad ronddans met: “Die vreugde van die Heer is my krag… Ha ha ha ha ha ha….”

Soos wat die jare kom en gaan, word ek natuurlik van tyd tot tyd gekonfronteer met ‘n krisis, of dit nou finansieel is, of besorgdheid oor gesondheid of oor een van ons kinders. Dan word ek weer herinner dat, om met ‘n wilsbesluit ten spyte van my bewerige hart die Here se lof te besing, die bekommernis of angs naderhand wegsmelt – want my lofprysing maak God die middelpunt van my lewe. Soos wat Dawid dit stel: Tog is U die Heilige wat woon onder die lofsange van Israel! (Psalm 22:4 ’53 Vertaling)


bottom of page