top of page
deur Milanie Vosloo

Om reg te blý kies


Omdat die Here by Josef was, was die hoof van die tronk oor niks bekommerd nie. Hy het alles aan Josef oorgelaat en die Here het Josef gehelp, sodat alles goed gegaan het. Genesis 39:23

Om áltyd “reg te kies”, is nie vir sussies nie. Want die regte keuses vra dikwels iets van ons: Soos om hard te werk om iets te bereik. Soms vra dit vreeslik baie wilskrag om gedissiplineerde finansiële bestuur toe te pas, gereeld jou geestelike lewe te verryk en elke dag vir jou stiltetyd tyd te maak. Om getrou die pad agter God aan te loop , is regtig nie altyd sommer-net-keuses nie. Dit alles vrá iets van ons.

Kan jy dink hoe ontsteld Josef moes wees toe hy deur die leuenstories van Potifar se vrou in die tronk moes beland? Om van rykmanskind na slaaf na tronkvoël toe te verlaag kan nogal enige iemand laat handdoek ingooi. Tog kies Josef wéér reg. Daar tussen die tralies leef hy steeds so naby aan die Here hy – selfs onder die moeilikste omstandighede denkbaar – ‘n wesenlike verskil maak. Ja, hy kry dit reg om ook in sy tronk-oorpak ‘n geseënde van die Here bly.

Dalk is jy al moedeloos gekies aan die régte pad. Dan wil ek jou vandag aanmoedig om wéér, nog ‘n keer, te kies om die suiwer weg te kies, die regte ding te doen ... die wil van God te volg.

Here, ek wil vandag u wil volg. Maar ek is swak. Help my daarmee asseblief.


bottom of page