top of page

Die wonder van die skepping


Die wetenskap vorder so vining dat dit een van die dae moontlik sal wees om na Mars te reis. Ek lees dit sal ‘n reis van nege maande wees. Jy sal slegs ‘n eenrigting kaartjie kan koop as jy deel wil word van die gemeenskap. Terugkom sal nie moontlik wees nie.

In Psalm 8 lees ons hierdie wonderlike woorde waar Dawid die skepping loof. God het elke planeet self in die hemelruim opgehang. Hy het noukeurig self die sterre se liggies aangeskakel tydens die skepping. Sterrestelsels wat nou eers ontdek word, hang al millennia in die hemelruim. Hoe wonderlik het God nie die skepping gemaak nie.

Ons loof en prys die God van die skepping en staan in verwondering vir hoe Hy dit aanmekaar geweef het. Hy het die GPS verwysings van elke ster, planet en stelsel. Ten spyte van die feit dat God die Almagtige Skepper is, het Hy ons as mense in beheer geplaas daarvan. Hy vertrou ons met dit wat Hy so sorgvuldig geskape het.

Sit vanaand jou besige program opsy en staan vir ‘n oomblik buite, om na die sterre te kyk. Dan kan jy Hom eer vir die skepping, die wonder daarvan en die voorreg wat jy het om dit op te pas.

Psalm 8 sluit af met die woorde hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde.


bottom of page