Die Aksie-Bybel [resensie]
top of page

Die Aksie-Bybel [resensie]


Doug Mauss (redakteur); Sergio Cariello (illustrasies). Die Aksie-Bybel: God se storie van verlossing. Christian Art Kids. 2016

Daar is heelwat Kinderbybels op die mark en ‘n mens vra dadelik: hoekom nog een? Wat is uniek aan die Aksie-Bybel?

Buiten dat jy hier met ‘n stewige hardebandboek te doen het, is die inhoud ook uniek. Jy kry in dié teken-Bybel, met uitstekende illustrasies soos in strokiesprenteboeke, nie minder nie as die 200 belangrikste verhale in die Bybel. Elke vertelling is kort en aksie-belaai en behou jou aandag en verbeelding met die uitstekende illustrasies. Terselfdertyd verduidelik dit die verloop van historiese gebeure in die Bybel, iets wat nie noodwendig deur die plasing van boeke in ons Bybel duidelik word nie. En die opwindende is dat die boek doelgerig opbou tot ‘n hoogtepunt, wat natuurlik God se openbaring in Jesus Christus is en die uitstorting van die Gees op gelowiges.

Die interessante is dat die boek so geskryf is dat dit nie slegs vir ‘n sekere ouderdomsgroep voorsiening maak nie. Mense van alle ouderdomsgroepe kan dit gemaklik lees. En in ons dag waar beelde ons aktiwiteite oorheers en heelwat mense nie meer veel lees nie, bied dié boek ‘n nuttige hulpmiddel. Buiten dat dit jou gedagte met beelde vul, vorm jy ook indrukke van geloofskonsepte wat verder as die abstrakte gaan. Die konkrete illustrasies van dié verhale, meen ek, gaan geestelike groei en ontwikkeling stimuleer.

Dit sal nuttig wees om die Skrifgedeeltes na te slaan waarna elke keer weer verwys word. Maar selfs wanneer dit nie gedoen word nie, kry jy die kern van die verhaal in strokiesprente wat oor drie of vyf of agt bladsye strek.

Die boek is gebaseer op aksie: God se aksie as die Almagtige en mense se (onvolmaakte) aksie as geloofshelde. En die Bybelse aksie is meer diepgaande, geloofwaardig en van veel groter betekenis as die aksie van Hollywood se helde soos Superman of Robin Hood.

Die boodskap is duidelik: God roep elke leser om ‘n aksieheld te word, wat in geloof vir God opstaan en die feit dat ons uitverkies is, vier deur Hom te eer.

Jy kry hier die verhale van die skepping, die vaders van die geloof, Josef en Moses, Josua en die rigters, konings en profete, en die ballinge. In die Nuwe Testament lees jy van Jesus en die woorde wat aan die adres van die kerk gerig is.


bottom of page