Studies
top of page

Studies


Dis twee uur die oggend en ek voel asof ek al een is wat wakker is op die planeet. Dit is hierdie tyd van die wedstryd dat jy jouself afvra waarin het jy jou kop gedruk. Om te swot en te werk is werklik baie moeilik, maar tog lekker. Wanneer jy weer swot besef jy eindelik hoe min jy wel weet. Daar is nou wel ‘n goeie rede hoekom ek so min op teologiese skool geleer het; ek moes twee ‘waiterjobs’ doen om te oorleef en daarom het ek wel simpatie met die #feesmustfall-studente. Ek wonder tog hoeveel van hierdie studente deeltydse werkies het en of hulle nuwe lewenstyle hulle nie finansieel knou nie. Hulle moet tog ordentlike motors bestuur en tablette hê. In my studentedae het net seniors motors gehad en ons almal fietse…

Dis nou drie uur die oggend en ek is nog steeds op dieselfde bladsy-ek maak niks vordering vanoggend nie. Ek het terloops deur die dag met ‘n gewone leuk ‘n gesprek gehad oor die spreuk van tale. Vir Paulus was die bid en spreuk van tale in sy persoonlike aanbidding baie belangrik (1 Kor. 14:18). Ek is werklik verstom oor die ou se kennis rondom God se Woord en dit laat my wonder hoekom daar leuke is wat beter kennis van die Bybel het as party predikante. Dit daar gelaat… my vrou sê juis ek geniet dit om kontroversieel te wees. Dit is nie so nie; ek het by Jesus geleer om stroom op te swem. Jesus was vir die mense rondom Hom baie kontroversieel. ‘n Mens kan eindelik sê Jesus was ‘n moeilikheid maker. Dit is nou 4 uur die oggend en ek gaan nou oppak want net nou moet ek opstaan vir my ‘sekulêre’ werk, maar ek sal aanhou leer want ‘n mens weet nie watter deure dit vir jou kan oopmaak nie. Dit is een van die grootste foute wat my pa gemaak het.

My vader wou graag verder swot na hy sy BTh verwerf het; die NG Sendingkerk predikante het destyds klaar geswot op Wellington College en was toegelaat tot die bediening. Jy kon dus na jou legitimasie verder swot. Ek het verstaan my pa was destyds briljant op skool in Graaf-Reinet en het die breinkrag gehad om verder te mik. Ongelukkig vir hom hoor hy by ‘n kerkraadsvergadering dat ‘hulle nie ‘n student beroep het nie’. Ek onthou nog daardie aand so helder soos daglig; die teleurstelling in sy oë. As daardie gemeente en ander gemeentes net kan verstaan dat ‘n dominee wat verder leer ‘n goeie as aanwins vir die gemeente is! Is en moet ons nie almal lewenslange student wees nie?


bottom of page