“Wêreldling”
top of page

“Wêreldling”


Terwyl ek die stories deurwerk oor my grootword in die pastorie, het julle seker agtergekom dat dit grotendeels ‘n negatiewe ervaring was. Dit maak my seer om dit te erken, tog is dit die waarheid en ek wonder baie hoeveel ander pastorie-kinders daar is wat vandag baie seer het of dalk nog kerkloos is vanweë hulle ervaring van die kerk en van kerkmense.

Tog wonder ek vandag hoe sou my lewe uitgedraai het as ek nie in ‘n pastorie grootgeword het nie. As my pa nie die bekende dominee was nie en my ma nie so ‘n ‘dienende Marta’ was nie? Daar is tog so baie gelowiges in die wêreld wie nie in pastorie grootgeword het nie; selfs is daar gelowige persone mense wat uit baie gebroke huise gekom het en vandag deur hulle lewens ander Christelik dra en bemoedig. Hoe sou ek ‘uitgedraai’ het as my pa by Eskom gewerk het of dalk ‘n prokureur gewees het. Dis interessant hoeveel kinders volg in hulle ouers se voetspore wanneer dit by loopbaankeuses kom; sou ek dalk ook ‘n prokureur gewees het? Ja, dis God wat my geroep het tot sy diens want Hy alleen roep tot die diens (Gal. 1:1).

Ja, dit is God wat roep maar is dit nie jou verwysingsraamwerk wat vergestalte gee aan daardie roeping nie. M.a.w. as ‘n kind uit ‘n prokureur- huis of ‘n mediese-huis geroep word dan verstaan daardie kind die roeping anders. As ‘n kind uit ‘n mediese-huis geroep word waar haar pa ‘n dokter is, sal sy dié roeping om die wêreld te verander gaan uitleef by Doctors Without Borders.

Hoe dit ookal sy; vandag is ek ‘n dominee en (noodgedwonge) onderwyser. Oor die jare het ek meer leer ken van die Here wat ek geleer het in my grootword jare. Ek is dankbaar vir my ouers wat my geleer het hoe om te bid en veral my pa wat my geleer het om God te respekteer. God is nou wel ons Vader, maar Hy bly tog die verhewe Skepper van die hemel en aarde. Ons leef in ‘n ander wêreld as waarin ons grootgeword het, of waarin ons ouers geleef het. Tog is daar die kern waarhede wat by ons bly wat ons geleer het by die huis; om te bid voor jy eet. Om saans al is jy hoe moeg van die verkeer; te bid. Ons kla almal oor ons ouerhuise, maar tog leef ons daardie waardes uit in ons eie huise vandag.


bottom of page