top of page

Leier Nuusbrief — Maart 2017— Deel 2


’n Diep Lewe

Hoekom is so baie mense ongelukkig in hulle werk. Cal Newport (Deep Work, Rules for Focused Success in a distracted World) sê die hoofrede is dat mense te veel tyd aan oppervlakkige werk spandeer. Hy gebruik drie argumente om die voordele van diep werk te beskryf. Twee is pragmaties: dit word toenemend waardevol en dit word toenemend skaars. Sy derde argument gaan oor floreer as mens. ’n Lewe toegewy aan diep werk is meer bevredigend en meer betekenisvol. Hy kyk na hierdie argument eerstens uit ’n neurologiese perspektief.

Wetenskaplike studies wys dat die vaardige bestuur van aandag ’n noodsaaklike voorwaarde vir ’n goeie lewe is en die sleutel is om feitlik elke aspek van ons ondervindings te verbeter. Hoekom? Ons brein bou ons wêreldsiening op waaraan ons aandag gee. Wie jy is, wat jy dink, voel en doen, is die totaal van waarop jy fokus. Deur jou aandag te bestuur, kan jy jou wêreld verbeter sonder om iets konkreet daaraan te verander.

As jy betekenisvolle tyd aan diep werk spandeer is daar ’n gewigtigheid en sin van belangrikheid daaraan gekoppel. As jy genoeg tyd hier spandeer, verstaan jou brein jou lewe as ryk in betekenis en belang.

As jy gedurig na jou e-posse kyk is dit waarop jou aandag gefokus is. Dit lei tot ‘n lewe oorheers deur stres, irritasie, frustrasie en kleinlikhede. Sielkundiges bevind dat die beste menslike oomblikke gebeur wanneer die mense se liggaam en denke maksimaal gerek word, in ‘n vrywillige poging om iets moeilik en die moeite werd te bereik. Jy konsentreer en jy verloor jouself in hierdie aktiwiteit. Hierdie toestand kry ons deur diep werk. Dit lei tot maksimum geluk en bevrediging.

Om ’n diep werk gewoonte te ontwikkel beteken ons moet verby goeie bedoelings beweeg en goeie roetines in my werklewe byvoeg. Cal Newport noem vier maniere/benaderings om dit in my skedule te integreer.

1. Die klooster filosofie van skedulering van diep werk

Hier word alle oppervlakkige verpligtings radikaal geminimaliseer. Dit vereis lang periodes (weke en maande) van isolasie met minimale kommunikasie en kontak met ander mense. Hulle het gewoonlik ’n professionele doel van waarde wat hulle navolg. Die grootste deel van hulle professionele sukses is die gevolg van een ding wat hulle buitengewoon goed doen Hierdie duidelikheid stel hulle in staat om al die oppervlakkige bekommernisse uit te skakel.

2. Die bimodale filosofie van die skedulering van diep werk

Duidelik gedefinieerde tye word vir diep werk geskeduleer. Die res van die tyd is dan oop vir ander werk. Hierdie mense voel dat daar tog waarde aan oppervlakkige werk ook is. Tydens die diep sessies tree hierdie mense soos monnike op – intense en ononderbroke konsentrasie. Die minimum is een volle dag per week aan diep werk.

3. Die ritmiese filosofie van skedulering van diep werk

Hier word n ritme ontwikkel wat die besluit oor wanneer om diep werk te doen, uitskakel en verplaas deur ‘’n eenvoudige gereelde gewoonte. Byvoorbeeld: die eerste twee uur van elke dag word geskeduleer vir diep werk. Hierdie roetine verseker dat diep werk wel gedoen word alhoewel dit nie dieselfde intensiteit as die vorige twee benaderinge bereik nie. Dit is dikwels die realistiesste benadering in mense met standaard kantoorpligte.

4. Die joernalistiese filosofie tot die benadering tot die skedulering van diep werk

Hierdie mense doen diep werk sodra tyd en geleentheid hulle voordoen. Die vermoë om van oppervlakkige na diep werk oor te skakel kom nie natuurlik of maklik nie. Vir mense met baie besige skedules is dit soms die enigste manier om diep werk gedoen te kry.

Diep prediking

Kan iemand mense se aandag lank genoeg vasvang vir God om sy werk te doen. Die gemiddelde aandag spanwydte in 2015 was 8.25 sekondes. Hoe kan ons mense rustig kry om aan God se woord aandag te gee? Maar ook: hoe kan ek, ‘n besige data-ryk prediker tyd en energie kry om die teks oor en oor te besoek.

"I stop to think of you [Lord], and my mind at once like a minnow darts away into the shadows." (Denise Levertov).

Is ons gedagtes nie ook maar soos dié van ‘n vissie nie – gedurig op pad elders. Die kultuur waarin ons swem help nie. Die gemiddelde Amerikaner ontvang 54 000 woorde en 443 minute video elke dag. Die bekende Ou-Testamentikus Walter Brueggeman sê, " … we are too numbed, satiated and co-opted to do serious imaginative work."

Hoe moet predikers reageer. Die antwoord dryf teen ons intuïsie in: Gaan diep. In ‘n oppervlakkige kultuur smag mense na iets seldsaam: gefokus, gebalanseerd en diep. Dit is ons beste kans om lewens te verander. Hoe preek ons diep? Vier praktyke fasiliteer diep prediking in ‘n tyd vol afleidings.

1. ‘n Diep lewe voor God.

Hier praat ons van ‘n lewe verdiep deur lyding, mislukking, berou en ‘n voortdurende soeke na God se genade. Dit vloei uit ‘n hart wat stadig en versigtig deur God se genade gevorm is.

Ken Shigematsu, senior pastor van Tenth Church in Vancouver, BC, sê "Deep preaching flows from an ever-deepening relationship with Jesus Christ. No techniques or shortcuts can substitute for this. Preaching is a secondary calling. We're called to be lovers first."

2. Diep luister na die teks

Die teks sê vir ons meer van die teks as wat ons verwag. Die Heilige Gees wat die teks geïnspireer het, is ook in die prediker teenwoordig. Ons kom dikwels na ‘n teks en is oortuig dat ons weet wat dit sê. Die gevolg is ons hoor net dit wat ons verwag.

3. Diep eenvoud van die teks

Diep prediking is eenvoudig en nie ingewikkeld nie. Jy moet een, eenvoudige idee vir jou boodskap kry. Kent Edwards sê daar is ‘n omgekeerde verhouding tussen ’n preek se doeltreffendheid en die aantal idees daarin. Hy sê: “Deep preaching is clear and direct. It is profound in its simplicity."

4. Diep werk van die Gees

Aan ons dan het God dit deur die Gees bekend gemaak, want die Gees deursoek all dinge, ook die diepste geheimenisse van God. Watter mens ken die verborge dinge van ‘’n mens behalwe die gees van die mens wat ’n hom is? So ook ken niemand die verborge dinge van God nie, behalwe die Gees van God. Die Gees wat ons ontvang het, is nie die gees van die wêreld nie, maar die Gees wat van God kom. So weet ons wat God ons in genade geskenk het. Dit verkondig ons ook, nie met geleerde woorde wat menslike wysheid ons leer nie, maar met woorde wat die Gees ons leer (1 Korintiërs 2:10 -14). Dit is die diep werk wat net die Heilige Gees kan doen en Hy is altyd beskikbaar as ons preek.

Die moed om die eerste verantwoordelikheid vir leierskap te vervul

Om die verlede te herhaal, mag pynlik wees, maar dit is voorspelbaar. Vrees is die rede waarom vandag net soos gister is. Elke betekenisvolle optrede vereis moed. You will never do anything in this world without courage - Aristoteles. Max Dupree (the Lost Art of Leadership) sê dat die eerste verantwoordelikheid van ‘n leier is om die werklikheid te definieer. Leiers met moed het dubbelvisie; hulle sien die wêreld soos hy is en soos hy kan wees.

  • Kyk probleme in die oog en sien die geleentheid. Vrees sien bedreigings. Bedreigings is ’n werklikheid Aanvaar die werklikheid en maak dit beter.

  • Kyk mense in die oog en sien krag. Moenie net altyd swakhede raaksien nie.

  • Kyk die huidige in die oog en sien die toekoms. Dink dan waarheen jy op pad is selfs terwyl jy aanvaar waar jy tans is. Leiers met visie skep die toekoms, maar hulle ignoreer nie die huidige nie.

  • Moed kyk altyd na die toekoms.

  • Leiers met moed inspireer moed in ander.

  • Gaan eerste.

  • Neem verantwoordelike risiko’s.

  • Erken jou foute

  • Erken vrees deur dit so te noem.

  • Aanvaar die foute van ander

  • Patrone van foute wat gereeld voorkom, is leierskapsprobleme.

  • Laat mense werk volgens hulle sterkpunte.

  • Kompenseer vir mense se swakpunte. Mense wat gedurig misluk lei hulle weer op of wend hulle elders aan of verwyder hulle

  • Gee mense ‘n siening van jou ware self; beoefen moedige kwesbaarheid.

  • Praat oor jou bestaansdoel en visie as jy voor probleme en uitdagings en teenstand te staan kom

  • .Vestig vaste punte van sekerheid. Leef en lei volkome ooreenkomstig jou visie en waardes. Waardes is die fondamentstene van sekerheid. In onseker omgewings.

  • Wees voorspelbaar. Staan altyd by jou span al het hulle verkeerd gedoen.

  • Vier suksesse en druk vir beter

Vrees fokus op bedreigings; moed fokus op geleenthede.


bottom of page