top of page
Writer's pictureStephan Joubert

Nuusflits: Jesus bid vir ons, al gaan die wêreld nie noodwendig beter en beter word nie


Londen het pas tot stilstand gekom na nog ’n terreur aanslag. Op baie plekke in ons land is daar ook gedurende die afgelope week onnodige begrafnisse gehou na wie weet hoeveel sinnelose moorde. Tussendeur laat enigiets vanaf kolonialisme tot bakleiende ouers in restaurante mense se bloeddruk styg. Dan hoor ek tussendeur hoe iemand hardop in ’n restaurant opmerk: “Net God kan ons nog help.” Toe dink ek: “Die Here doen dit nog altyd.” God is regtig nie ’n laaste uitweg nadat ons alles probeer het nie. Jesus het ook nie gesê ons gaan die wêreld beter en beter bid nie. Hoor wat het Hy regtig gesê in Johannes 16:33: “Hierdie dinge het Ek vir julle gesê sodat julle My vrede kan hê. In die wêreld het julle lyding; maar wees vol moed want Ek het die wêreld oorwin.”

Natuurlik moet ons bid. Trouens, Paulus se woorde in 1 Tessalonisense 5:17 is dat ons dit dag en nag moet doen. Ons bid met vertroue dat die Here om ons in tye van voorspoed en in teenspoed sal vashou. Ons bid dat God verheerlik sal word. Ons bid dat sy wil sal geskied. Maar hier's die nuusflits van die dag: Jesus bid vir ons. In Johannes 17 verneem ons hiervan. Hoor net wat bid Jesus vir ons in vers 9-11:

Ek bid vir hulle. Ek bid nie vir die wêreld nie maar vir dié wat U My gegee het, omdat hulle aan U behoort. Almal wat aan My behoort, behoort aan U; en wie aan U behoort, behoort aan My; en Ek word deur hulle verheerlik.”

Dan gaan Jesus voort in vers 13-18:

Maar nou kom Ek na U toe. En Ek sê dit terwyl Ek nog in die wêreld is, sodat hulle my blydskap in al sy volheid in hulle kan hê. Ek het u woord aan hulle gegee, en die wêreld haat hulle, omdat hulle nie tot die wêreld behoort nie, net soos Ek ook nie tot die wêreld behoort nie. Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld moet wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose moet bewaar. Hulle behoort nie tot die wêreld nie, net soos Ek ook nie tot die wêreld behoort nie. Laat hulle aan U toegewy wees deur die waarheid. U woord is die waarheid. Soos U My na die wêreld toe gestuur het, het Ek hulle ook na die wêreld toe gestuur.”

Wat ’n gebed! Die grootste gebede in hierdie dae is nie joune en myne nie, maar Jesus S’n. Hy bid vir jou en my. Hy bid dat God ons van die Bose sal bewaar en dat ons sal leef tot Sy eer tussen ander. Luister na sy gebed. Leef daarbinne, want dit is reeds verhoor.


bottom of page