top of page
  • deur Roedolf Botha

Die reddende krag van stories


Ons mense kan “stories” skynbaar nie ontsnap nie. Ons lees elke dag stories in die koerant. Sommige van ons spandeer baie tyd aan die lees van fiksieverhale, sommer net vir ontspanning of eie verryking. Meeste van ons kyk elke aand na stories op die televisie. In die verlede moes ons na ‘n videowinkel toe gaan om stories te gaan uitneem. Vandag kyk ons flieks of reekse sommer op die internet. Soms betaal ons selfs groter bedrae geld om na ‘n goeie storie te gaan kyk in ‘n fliekteater.

Dit lyk asof ons as mense baie inspirasie put uit goeie stories. Verhale van mense wat hoë hoogtes bereik het kan ons ook telkens dring na hoër hoogtes en prestasies. Ek dink aan bekende verhale van mense soos Wolraad Woltemade, wat ons kan inspireer tot heldhaftigheid. Die verhaal van iemand soos Martin Luther King kan ons weer aanspoor tot die oordra van gesonde morele waardes aan ‘n samelewing. So kan die gewese CEO van General Electric, Jack Welsch, ons aanmoedig tot dinamiese groei in leierskap in die besigheidsarena.

Goeie verhale help ons egter ook om te “cope” met die harde kant van die lewe. Telkens net wanneer ons wil opgee dan hoor die ons die storie van iemand anders wat uiters swaar gekry het en steeds kop-bo-water gehou het, en dan inspireer dit ons weer tot hernude volharding. Stories gee nie altyd vir ons klinkklare antwoorde nie maar op ‘n misterieuse manier help dit ons om hoop te vind, aan te gaan en selfs beter te word. Wanneer ek wonder oor al die lyding in hierdie wêreld en ek dink aan die ware verhaal van Desmond Doss wat vyf-en sewentig mense se lewens gered het tydens die Tweede Wêreldoorlog dan gee dit nie regtig rasionele antwoorde op die futiliteit van oorlog of waarom God dit alles toelaat nie. Dit gee my egter ‘n verhaal van waar iemand die evangelie laat “werk” het in die regte lewe. In die verhaal beleef mens iets van God se bemoeienis in die wêreld en daal daar ‘n innerlike vrede neer. So vreemd soos wat dit klink is dit soms genoeg.

Die moderne Katolieke hervormer en skrywer, James Caroll, het iets gesê wat my nogal laat dink het aan die krag van stories. Hy sê:

The very act of storytelling, of arranging memory and invention according to the structure of narrative, is by definition holy… We tell stories because we can’t help it. We tell stories because we love to entertain and hope to edify. We tell stories because it fills the silence death imposes. We tell stories because they save us!

Dis dan geen verrassing dat die Bybel God voorstel as die Groot Storieverteller nie. Sewentig persent van die Bybel bestaan uit verhale. Jesus preek hoofsaaklik in verhale (Markus 4:34). God is daagliks besig om ‘n verhaal te skryf: die verhaal van die geskiedenis. Die hoofkarakter van hierdie verhaal? Jesus. In Jesus het God die mees fundamentele menslike verhaal kom vestig in ons midde. In Jesus is Hy steeds besig om aan die geskiedenis te skryf. Daarom dat stories so resoneer met ons harte! Dis eintlik God wat steeds poog om die wêreld se aandag te trek deur bekwame storieskrywers in ons midde te plaas. Dis eintlik Hý wat ons harte warm hou vir Hom deur stories in ons harte te plant. Telkens wanneer mense moeg raak, of wanneer gelowiges moedeloos raak, of wanneer Christene laks raak in hulle Jesus-navolging, dan word hulle aangespoor deur hierdie verhaal van God wat kom mens word het tussen ons. Hoor hoe spoor die Hebreërskrywer sy lesers aan tot hoër hoogtes met die volgende woorde (12:2-3 Message):

Keep your eyes on Jesus, who both began and finished this race we’re in. Study how he did it… When you find yourselves flagging in your faith, go over that story again, item by item, that long litany of hostility he plowed through. That will shoot adrenaline into your souls!


bottom of page