Dienende Marta
top of page

Dienende Marta


Deesdae word daar baie dames as dominees aangestel. Eks baie bly! Daar’s is egter net twee sakies wat my hier rondom pla. Voor ek daarby kom wil ek darem eers verklaar dat dit ‘n fantastiese idee is! Die dames wat saam met my in die teologiese banke gesit het; is dinamies en passievol oor Jesus Christus en sy kerk. Daar is egter twee sakies wat krap: 1) Wanneer hierdie dames as dominees aangestel word is dit gewoonlik om die jeug of klein kinders te bedien, hoekom is dit so? Is hulle dan nie goed genoeg vir ouer fases in die gemeentes nie? 2) Dit is ‘n stap in die regte rigting vir die kerk om die wêreld te wys dat daar geen geslagsdiskriminasie in die kerk is nie, maar hoeveel anderkleurige predikante is beroep in die NG-familie (uitgesluit VGK) sedert 1994. Geen waarvan ek kennis dra nie…

In my pa se tyd was daar baie min vroue predikante; maar die vroue van die predikante het dinamiese rolle ingeneem in die gemeentes wat hulle gades bedien het. As ek reg onthou was daar kerkordes in NG-familie wat verklaar het dat die predikant se vrou ex officio lid is van alle kommissies en so ook dat die vroue leierskap van die vroue verenigings moes neem. Dit terwyl daardie vrou geen ondervinding of teologiese opleiding gehad het nie moes sy maar inspring en uithelp. Koekbak, Sondagskool hou, die vroue lei en haar man emosioneel ondersteun. Daar was selfs vroue van die predikante wat hulle gades nie op die naam genoem het nie, maar dominee genoem het.

Ek open elke oggend by die skool vir die personeel en ook skoolsaal-byeenkomste vir die leerders. Dus nou deel van my skool portefeulje en dit is behalwe die skoolvakke wat ek aanbied. Ek kan glad nie uit boekies preek nie en maak elke aand ‘n ‘oorspronklike’ boodskap (as ‘n mens so iets kry). Somtyds brand ek vas en dan skakel ek my moeder want ek weet sy maak elke aand die Bybel oop en doen Bybelstudie. En so deel sy met my haar boodskappe en so deel ek die boodskappe met die personeel. My moeder het oor die jare baie oefening gekry; as ek dink aan al die vrouedag boodskappe en vroue Bybelstudies wat sy moes aanbied. As ek dink aan al die Saterdagaande wat sy saam met my pa opgesit het, terwyl hy sy Sondag boodskap opskerp.

My ma…wat ‘n vrou. ‘n Dienende Marta dog ook ‘n Maria by Jesus se voete.


bottom of page