top of page
  • deur Helena Smith

Hoe bid ek vir my volwasse kinders?


Dit is 'n gegewe dat ons as ouers foute gaan maak. Daar is egter een ding wat jy as ouer nie mag nalaat nie en dit is gebed vir jou kinders. Jy sal nooit 'n perfekte ouer wees nie, maar jy kan 'n biddende ouer wees. Niks wat jy ooit kan doen as ouer, sal meer vrugte dra as jou gebede nie. Mark Batterson se in sy boek, Praying circles around your children, die volgende: "Prayer turns ordinary parents into prophets who shape the destinies of their children, grandchildren and every generation that follows."

Met ons drie kinders, wat reeds die huis verlaat en getroud is, het ek agtergekom dat ek nou selfs meer vir my kinders bid, as toe hulle klein was. Hoe bid ek vir my volwasse kinders?

* Ek bid vir hulle vir wysheid. As die kinders nog in die huis is, kan jy vir hulle help keuses maak en hulle steun op hulle ouers se wysheid. Nou bid ek vir hulle dat hulle selfstandig sal wees en dat die Here vir hulle die onderskeidingsvermoë sal gee om die kaf van die koring te skei. Ek bid feitlik daagliks die woorde wat oor Jesus gesê is in Lukas 2:52 oor hulle af: " En so het Jesus groot geword en in wysheid toegeneem..." Mag my kinders soos Jesus in wysheid toeneem.

* Ek bid vir hulle finansies. Ons, wat al 'n bietjie ouer is, weet hoe ons die sente moes omdraai in ons jare as jong werkendes/getroudes. Ek bid dat die Here my kinders sal help om hulle geld wys te bestuur, dat hulle goeie rentmeesters sal wees en dat die Here in hulle finansiële behoeftes sal voorsien.

* Die heel belangrikste: Ek bid dat my kinders se liefde vir die Here sal toeneem en dat hulle daagliks in 'n persoonlike verhouding met Hom sal leef. Ek weet dat as hulle die pad saam met die Here stap, hulle die sin van die lewe sal besef en dat hulle ook die storms van die lewe sal kan aandurf.

* Ek bid dat hulle hulle geloof sal uitleef en besef, dat hulle eintlike roeping is om 'n verskil in ander mense se lewens te maak. Mag hulle besef dat hulle elke dag die kerk van Jesus vir ander is. Mag hulle woorde, maar veral hulle dade, mense vir Jesus se koninkryk werf.

Soos wat 'n mens se volwasse kinders die huis verlaat, voel dit asof jy nie meer regtig 'n doel in hulle lewe het nie. Nou het jy egter eers 'n doel: BID vir hulle!

Ek sluit af met nog 'n aanhaling van Mark Batterson: "Your prayer for your children are the greatest legacy you can leave."


bottom of page