top of page

Ons is soos gras


Iemand het eenkeer vir my gesê: “Roedolf, jy het net één lewe: laat dit tél!” Die bedoeling van die persoon was goed en positief. Die klein stukkie asem wat ons besit aan hierdie kant van die graf is so raar en kosbaar dat ons nie kan waag om dit te mors nie. Dit het ‘n blywende impak op my lewe gemaak. Met Joost van der Westhuizen se afsterwe ‘n paar dae gelede, het ek weer diep onder die indruk gekom van hierdie waarheid. Dit voel vir my nog soos gister toe Joost as Springbok op die veld uitgedraf het as die jong, intelligente en dinamiese skrumskakel wat die wêreld aan die praat gehad het. Dit voel soos die ander dag toe hy ‘n paar jaar later, tot almal se skok, gediagnoseer is met die motor-neuronsiekte. Nou leef hy slegs voort in ons geheue en ons gedagtenis. Die kortstondigheid waarmee ons Joost se lewe kon dophou en inspirasie daaruit kon put, word gedurig deur ouer mense ge-ego wanneer hulle vir ons maan om ons tyd reg te gebruik. “Die tyd vlieg so vinnig verby…” of “Dit voel nog soos gister toe…” sal hulle dikwels hulle vertellings begin.

Die Bybel praat natuurlik ook oor die kortstondigheid van die lewe wanneer hy oor die mens sê:

Hy is soos gras wat in die môre afgesny word: in die môre is dit nog groen, maar dit word afgesny en teen die aand is dit verlep en dit verdroog… (Here), Leer ons ons dae so gebruik dat ons wysheid bekom – Psalm 90: 5-6, 12.

Ons moet hierdie lewe met wysheid leef. Ons moet die dae tel. Ons moet versigtig wees wanneer ons leef. Ons hoef nie angstig of depressief te wees nie. Die Here hou ons mos in sy hand. Hy hou ons mos in stand selfs tot anderkant die graf. Maar ons moet ons tyd reg gebruik want aan hierdie kant van die graf is tyd heel moontlik die kosbaarste kommoditeit.

Die sanggroep Casting Crowns sing ‘n lied met die volgende koorgedeelte:

I am a flower quickly fading Here today and gone tomorrow A wave tossed in the ocean A vapor in the wind Still You hear me when I'm calling Lord, you catch me when I'm falling And you've told me who I am I am yours

Ons is oneindiglik kosbaar vir die Here maar in die groter kosmiese prentjie is ons regtig nie so belangrik nie. Ons is geliefd, ons is gekies vir die Here se span, ons is veilig in sy hande. Maar ons tyd? Ons tyd hier is kort. Ons kans om ‘n impak te maak en lief te hê aan hierdie kant van die dood is beperk.

Dus - nog ‘n stukkie wysheid van ‘n ander goeie vriend:

“Major in the majors and minor in the minors, and don’t waste time on anything that is not ultimately going to make a difference.”


bottom of page