Does the Bible really say that…? [resensie]
top of page

Does the Bible really say that…? [resensie]


‘n Mens hoor soms dieselfde cliché’s wat herhaal word: die Here het ‘n plan met elke gelowige se lewe. Hy wil elke mens gesond maak. Vergifnis is belangrik en binne elke mens se bereik. Gebed is om jou behoeftes en nood aan die Here bekend te maak. ‘n Goeie preek bevat nie lering nie omdat lering mense doodmaak.

Is dit noodwendig waar? Die korrekte vraag is eerder: wat sê die Bybel hieroor? Is daar duidelike uitsprake in die Bybel wat ons in staat stel om stellings met groot stelligheid en sekerheid te maak?

En dit is waaroor dié boekie handel. Wanneer ‘n natuurramp ‘n area tref en talle mense hulle lewens verloor, of hulle eiendom of besigheid of werk, wat is die sin daarin? Hoe kan gelowiges maak om dit te verwerk? Moet ons sê: die Here het ‘n plan hiermee? As jou ouer of lewensmaat deur ‘n chroniese siekte gekortwiek word om voluit te lewe, of deur ‘n verstandsiekte om in sinvolle verhoudings te staan, hoe verklaar ons dit as gelowiges? Het God ‘n plan daarmee? Wanneer ses miljoen mense in die Nazi-oonde omkom omdat ‘n politikus die plan het om sy volk uit te bou ten koste van ander volke, hoe verklaar jy wat daar gebeur?

Dit is die (amper) moedswillige vrae wat dié boek stel, vir mense wat eerlik oor geloof en hulle aannames daaroor wil dink. Gaan gebed om jou? Of gaan dit om God wat vir jou omgee, en jou deel van die ontplooiing van sy wil wil maak?

Waaruit bestaan geestelike groei? Dat ons kennis insamel, oor onderwerpe soos homoseksualiteit en wie die skrywer van die eerste vyf boeke van die Bybel is en watter omstandighede aanleiding gegee het tot die ontstaan van die profetiese boeke in die Ou Testament? Moet jy net lank genoeg Bybelstudie saam met ‘n huiskerk doen om te groei in jou geloof? Dit is skynbaar die veronderstelling wanneer jy kyk hoe baie kerke hulle aktiwiteite struktureer. Jy moet net die kerk se byeenkomste ondersteun, dan loop alles vir jou reg. Is dit waar en geldig?

Ek hou nie noodwendig van al die antwoorde wat Woods bied nie maar die manier en erns waarop hy met die Skrif omgaan, en sy eerlikheid oor ons situasie het my genoop om die boekie enduit te lees.

Wonder jy ook of die Here aardbewings en vloede stuur, en droogte en kanker? Stoei jy om te vergewe? Wonder jy soms oor die sinvolheid van gebed? Pla die klem op siele wat uit die hel geruk moet word deur die kerk wat getuig jou soms? Dan gaan jy baat vind by dié boekie. Moenie dat sy lengte jou onder die verkeerde indruk bring nie; die boek bevat veel van substansie om seker te maak dat jou aannames oor ‘n klomp geloofsake werklik Bybels begrond is.


bottom of page