Leier Nuusbrief — Februarie 2017 — Deel 2

February 15, 2017

 

Luister: ’n Verlore vaardigheid

 

Is lees ’n hoër vlak van kommunikasie as luister? Kinders luister; volwassenes lees. Ons glo dat om te luister vereis geen besondere vaardigheid nie. Lees, daarenteen, is die gevolg van jare se onderwys. Om te lees vereis dat ek fokus; om te luister, is oënskynlik maklik en natuurlik. (Let op: oënskynlik)


Het jy al mense gesien wat werklik luister? Oë kyk na onder; sommige maak hulle oë toe; die kop is effens gebuig. Dit is ten volle gefokusde luister. Maar dit is nie hoe dit in die kerk lyk as die Bybel hardop voorgelees word nie.


In die antieke kerk was daar nie gedrukte Bybels nie. Tog verwag ons vandag dat mense die Bybel moet lees en terselfdertyd luister. Hierdie twee prosesse aktiveer verskillende dele van ons brein. Ons kan nie fokus op lees en luister terselfdertyd nie. Ons glo lees is beter as luister. Ons hoor nie meer die woord van die Here nie — ons lees dit. Natuurlik moet ons nie ophou om die Bybel te lees nie, maar lees en luister is twee verskillende dinge. As ons die gesprekke van Jesus in byvoorbeeld Matteus lees, moet ons onthou dat Jesus hulle gepraat het. Ons glo die Bybel is ’n geskrewe teks volledig met hoofstukke en verse — selfs met studienotas en kruisverwysings.


In The Journal of Memory and Cognition in 2000 is lees van ’n gedrukte lesing met luister na dieselfde lesing met luister en lees na die gedrukte teks van dieselfde lesing met mekaar vergelyk. Later is mense getoets om te sien watter woorde en konsepte hulle onthou het. Lees alleen was die slegste; luister terwyl jy lees, kom tweede; luister alleen doen heelwat beter. Die gevolgtrekking is dat as jy lees jy luister belemmer.


Om te luister na die Skrif wat hardop in die geloofsgemeenskap gelees word, is aanbidding wat ons verbind met die antieke kerk. Luister met oë wat nie rondkyk nie, kop gebuig, ten volle gefokus asof God self praat, is die begin van aanbidding. Gebed en lofprysing is die antwoord daarop.


Moet ons nie weer die praktyk van luister na die Skrif — nie enkele verse nie, maar groter gedeeltes — ontdek nie. Dit is ’n noodsaaklike komponent van aanbidding. “Kom ons luister na die Woord van God” kan nie tot sy reg kom deur enkele verse te lees nie.

 

Optrede en woorde

 

Almal van ons ken en gebruik aanhalings oor leierskap: “Everything rises and falls on leadership.” — John Maxwell; “Leadership is influence.” — J. Oswald Sanders; “Spiritual leadership is moving people on to God’s agenda.” — Henry Blackaby; “Leadership: The art of getting someone else to do something you want done because he wants to do it.” — Dwight D. Eisenhower; “A leader is a dealer in hope.” — Napoleon Bonaparte


Aanhalings is goed, maar optrede is beter. Maar hoe kom ek van die een na die ander?


1. Laat jou woorde tel. Groot leiers is dikwels meesters van taalgebruik. Sommige leiers dink dat die gebruik van tegniese terminologie ’n plaasvervanger is vir direkte leierskap. ’n Leier wat gespesialiseerde taal gebruik, verwar dikwels ander mense. Op 19 November 1863 praat Edward Everett vir twee uur oor die mag van Amerika en die opoffering wat sy soldate moet maak vir die beskerming van die land se vryheid. Nooit van hom gehoor nie? Na hom lewer Abraham Lincoln sy Gettysburg toespraak — 246 woorde lank. Lincoln inspireer mense met woorde wat vir hulle sin gemaak het.


2. Wat ons sê moet lei tot optrede. Die verskil tussen ’n segsman en ’n leier is die beweging van mense. ’n Segsman lig ons in oor die omstandighede in ’n steriele omgewing. ’n Leier interpreteer wat gedoen moet word in die lig van omstandighede. In 1 Kronieke 12:32 lees ons dat die Issaskarstam die tekens van die tye verstaan het en geweet het wat Israel te doen staan. Dit is wat van ’n leierverwag word.


3. Ons optrede moet deur ons woorde ondersteun word en omgekeerd. Kyk na hierdie vier elemente: Wat ons sê, glo ons; ons evaluering van die omstandighede; wat ons sê moet ons doen; ons gee leiding oor die optrede wat van die mense verwag word. As enige van hierdie vier uit pas is, het jy probleme met leierskap

 

Sien jy jouself as ‘n leier?

 

“Genuine leadership is not conferred by title... It is leadership demonstrated through our everyday actions and the way we influence the lives of those around us.” — Mark Sanborn


Baie kerkmense sal sê: “Ek sien myself nie as ’n leier nie, maar as ’n dienaar.” Is dit korrek? Kyk ons na die aanhaling is enigeen wat iemand anders beïnvloed ’n leier. John Maxwell sê dat ons op enige vlak kan lei. Dit beteken nie dat ons nou skielik beheer van ons organisasie oorneem nie. Dit beteken wel ons moet ons invloed erken en dat ons, in hierdie sin, geroep is om leiers te wees. In die gemeente is daar volop geleenthede om ander te beïnvloed.


Luister na Paulus: Volg my voorbeeld, soos ek die voorbeeld van Christus volg (1 Korintiërs 11:1). Soos ons ons lewe op dié van Christus modelleer, is ons verantwoordelik om ander te lei om dieselfde te doen. Dit beteken, met of sonder titel, dat ons leiers is.

 

Verandering in die kerk

 

Soos ek dit sien is daar sekere dinge in die kerk wat moet verander. Daar is egter sekere dinge wat nie moet verander nie. Thom Rainer noem sewe dinge wat nie moet verander nie:


1. Die Bybel is steeds die woord van God — dit was en is en sal altyd wees.
2. Die evangelie verander lewens. Dit is immers die krag tot verlossing. Dit verander nie ten spyte van al die ander veranderings in die kerk nie.
3. Kleingroepe is belangrik. Dwarsdeur die geskiedenis van die kerk was die rol van kleiner groepe nog altyd belangrik. Dit is waar die geloofsgemeenskap gevestig word en waar diep waarhede geleer word.
4. Die sendingveld het steeds werkers nodig. Dit sluit in afgeleë sendingvelde, maar ook die sendingveld om ons.
5. Gebed bly steeds kragtig. God gebruik steeds kerke wat bid.
6. Mense wat seergekry het, benodig steeds bediening. Pyn en seerkry mag oor die jare verander het, maar die behoeftes bly dieselfde. ’n Kerk wat werklik vir mense omgee, sal altyd ’n plek in ons samelewing hê.
7. God is steeds in beheer. Soms verwar die vinnige verandering ons; soms voel ons die lyding in die wêreld oorweldig ons; soms sien ons geen lig nie. Onthou, God is steeds in beheer — Hy is daar vir jou en jou gemeente.

Ons dink dikwels dat alles besig is om te verander — ook die dinge wat ons koester. Daarom is dit goed om weer daaraan herinner te word dat baie dinge in God se kerk nie verander nie. Dit is die dinge wat regtig saak maak — wat ’n verskil maak in ons kerke en ons samelewing.

 

Ons werk saam

 

Leiers wat saamwerk besef dat organisasies netwerke van verhoudings is — verhoudings is die gom wat die hele organisasie bymekaar hou. Dan is samewerking nie ’n opsie nie — dit is noodsaaklik. Wat is dit wat leiers wat saamwerk, weet?


1. Hulle weet hulle is nie in beheer nie. die ou “bevel en beheer” denke is verby.

2. Dit is nie moontlik om al die antwoorde te ken nie. Inligting word op te veel plekke gehou. Wat vandag belangrik is, is nie vinnige antwoorde nie, maar goeie vrae. Goeie vrae open die deur vir kreatiewe nuwe idees en oplossings. Leiers moet in staat wees om onsekerheid te verdra.

3. Mense wil hê dat hulle organisasies suksesvol moet wees. As jy hulle die geleentheid gee om deel te neem, kom hulle met hulle beste denke na vore. Deur deelname verstaan hulle die doelwitte en probleme beter — hulle doen alles in hulle vermoë om oplossings te kry. As jy hulle uitnooi om aan die besluitnemingsproses deel te neem, ontwikkel jy hulle leierskapsvaardighede en vlak van vertroue.

4. Raak gewoond aan deursigtigheid. Inligting is beskikbaar of jy dit nou wil deel of nie. Enige organisasie presteer beter as inligting algemeen bekend is.

5. Diversiteit is die basis vir innovering. Diversiteit — verskillende perspektiewe — lei tot beter oplossings.

6. Netwerke is slordig; dit is moeilik om die hele prentjie te sien. Innovering en kreatiewe oplossings kom dikwels na vore uit informele interaksie tussen mense met verskillende perspektiewe.

7. Gaan stadig om vinnig te gaan. Neem tyd om aan die begin reg te beplan. Dit versnel jou implementering. As jy te haastig is, sukkel jy om almal aan boord te kry. Sorg vir die begin en die einde sal vir homself sorg.

8. Die gesondheid van die geheel en die gesondheid van die dele is interafhanklik. Mense is nie hulpbronne nie — hulle is mense. Sonder die span, geen organisasie nie. Die gesondheid van die geheel word deur die gesondheid van die dele bepaal.

 

Oppas vir spot

 

  • Die eerste Amerikaanse stoomboot het 32 uur nodig gehad vir die reis van New York na Albany. Die mense het gelag.

  •  Die perdekoets het verby die motorkar gehaas asof die motor stilgestaan het — dit het dikwels stilgestaan. Die mense het gelag.

  • Die eerste elektriese gloeilamp was so flou dat mense ’n gaslamp nodig gehad het om te sien. Die mense het gelag.

  • Die eerste vliegtuig kon net 59 sekondes in die lug bly. Die mense het gelag.

 

Please reload

ONLANGSE ARTIKELS

December 6, 2019

December 5, 2019

December 3, 2019

Please reload

AFDELINGS & SKRYWERS
LEES SOORTGELYKE ARTIKELS
Please reload

© 2019 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon
  • White Twitter Icon

Laai ons "app" af: