top of page
Writer's pictureRoedolf Botha

Die broodkrummels wat na God lei…


Liefde is ‘n interessante ding. Dis die hooftema van byna alle gesogte liedere, poësie en prosa. Kom ons wees nou maar eerlik: sonder liefde sou daar nie veel wees om oor te sing nie. Liefde is byna universeel inspirerend. Ons teer op verhale waar liefde seëvier tussen man en vrou, mens en medemens, vriend en vyand. Ons vergaap ons aan flieks soos Schindler’s List waar Oscar Schindler sy eie lewe in gevaar stel om die lewens van sowat nege-honderd Jode te red. Dink net hoe vervuld ons lewens blyk te wees wanneer ons liefde vind en hoe pynlik dit is wanneer ons iemand se liefde verloor. G’n wonder nie dat soveel filosowe en denkers vandag nog wonder waar liefde vandaan kom en wat die doel daarvan is. Om maar net te beweer dat liefde die produk is van suiwer biologie en chemiese prosesse in die brein is eens te veel vir sommige om te glo. Liefde is net te betekenisvol, te kragtig, te lewenstransformerend om nie ook dieper betekenis te hê nie.

Hierdie belangrike vraag na die betekenis van liefde kan byvoorbeeld gesien word in die fliek The Thin Red Line. Laasgenoemde is ‘n oorlogfliek wat handel oor die sin van die lewe te midde van die pyn en die chaos van oorlog. Een van die karakters – gespeel deur die akteur Jim Caviezel – skryf deur die loop van die rolprent ‘n brief aan sy vrou met die volgende woorde:

My dear wife, you can get something twisted out of your insides by all this blood, filth and noise. I wanna stay changeless for you. I wanna come back to you the same man as before. How do we get to these other shores? To those blue hills?

Love.

Where does it come from?

Who lit this flame in us?

No war can put it out, conquer it.

Hierdie is belangrike vrae: Waar kom liefde vandaan en wie het die vuur van liefde in ons aangesteek?

Johannes gee natuurlik vir ons op twee plekke interessante antwoorde. Eerstens sê hy in 1 Johannes 4:8 “God is liefde…”

In die tweede plek sê hy:

As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is” – Johannes 13:35.

Die eerste vers kommunikeer aan ons dat as God die mees fundamentele Realiteit in hierdie wêreld is, en Hy is liefde, dan maak dit sin dat liefde ons almal so intens affekteer. Ons is immers almal draers van God se beeld. Ons word almal geaffekteer deur liefde, of ons nou in Hom glo of nie.

Die tweede vers beweer egter dat dade van liefde in hierdie wêreld die rol vervul van tekens wat na Jesus wys. Só sal die wêreld weet. Liefde is soos broodkrummels in ‘n donker woud wat uiteindelik lei na die groot Liefhebber. Elke liefdevolle daad aan ‘n medemens weerklink met die teenwoordigheid van die opgestane Jesus! Wanneer die spoor van enige daad van liefde dus gevolg word tot by die bron dan besef mens dat jy staan aan die voet van die kruis van Jesus. Liefde (of die somtydse gebrek daaraan) is die manier waarop God ons aandag probeer kry. Dis God se manier om aan almal te kommunikeer dat daar méér aan hierdie lewe is as wat met die blote oog waargeneem kan word. Die teenwoordigheid van liefde wil die weg wys na God as die Gewer en Bron van daarvan. Liefde word ‘n stem wat uitskree dat pyn, swaarkry en teleurstelling nie ons lewens definieer nie. Ons lewensbetekenis word veel eerder bepaal deur God wat ons liefhet. Liefde is opstandingstaal. Dit bring lewe. Dood, pyn en teleurstelling is nie finaal nie.

Goeie Vrydag en Opstandings-Sondag wys vir ons dat liefde wen… altyd!


bottom of page