The real God [resensie]
top of page

The real God [resensie]


Chip Ingram. The real God: How He longs for you to see Him. BakerBooks. 2016

As jy belang stel in boeke met ‘n geestelike tema of na boodskappe van bekendes daaroor luister, het jy waarskynlik al met Chip Ingram te doen gehad. Sy Culture Shock, The Real Heaven, The Invisible War en Love, Sex, and Lasting Relationships bly op rakke omdat dit in aanvraag by die leserspubliek bly.

Dié boek handel oor die tydsgees waaraan ons as gelowiges nie kan ontsnap nie. Ons leef in ‘n wêreld waar die klem op die individu val, op jou menseregte en die veronderstelling dat jy die reg het om gelukkig te wees. Daar word van jou verwag om te staan op jou regte, dat jy opeis wat jy meen jou toekom. Ons wêreld funksioneer op die basis dat die doel die middele heilig, dat liefde daaroor gaan dat jy selfvervulling en geluk beleef en dat voorkoms en status al is wat saak maak.

In die proses bestaan die gevaar dat gelowiges ‘n god kan skep wat pas by hulle wêreldbeeld, wat vaagweg aan die God van die Bybel herinner. Jou god stel primer belang in jou gesondheid, banksaldo, kinders, beroepsukses en welvaart.

Dan neem Chip jou terug na die Bybel, en stel jou voor aan die God van die Bybel. Jy hoor wat die Bybel leer oor God se goedheid, sy soewereiniteit wat te doen het met sy regering en beheer oor ons wêreld, sy heiligheid wat te doen het met sy andersheid, sy wysheid, sy geregtigheid, sy liefde en getrouheid. En wanneer jy klaar saam met die skrywer na God gekyk het, soos die Bybel oor Hom praat, gaan jy weer na jouself kyk, en verbaas wees oor wat jy sien. Want nou gaan jy jouself, en wat jy hier op aarde doen, sien in terme van jou Skepper en sy bemoeienis met jou. En jy gaan anders oor jouself en waarmee jy besig is, en die mense om jou en wat in jou wêreld gebeur, dink.

As niks jou motiveer om te bid nie, dink na oor wie God is. Om Hom in die oog te kry, is om tot aanbidding en ootmoed gedryf te word.

Ingram het ‘n gemaklike geselstrant waarmee hy in sy boek as’t ware met jou gesels, oor sake wat relevant vir enige kontemporêre mens is, veral vir mense wat in die vloed van materialisme en verbruikerisme vasgevang is (en wie van ons is nie?)

Maak seker jy staan in ‘n persoonlike verhouding met die Een wat van sonde red en vir jou vrede gee. Sien Hom soos Hy wil hê jy na Hom moet kyk!


bottom of page